Geen liefde vir diere

Die dood van honde wat vergiftig is en dierelyke wat in strate gevind is, het diereliefhebbers ontsteld gelaat verlede week.

Agt honde is verlede week na Klipfontein Dierekliniek geneem nadat hul vergiftig is, en nog twee vergiftings is hierdie week gerapporteer.

“Ons weet van nog meer wat by ’n ander kliniek behandel is,” het me. Marina Farell van Klipfontein Dierekliniek gesê. Van die honde kon gered word, maar vir meniges was dit te laat. “Die honde word meestal vergiftig deur misdadigers wat by huise wil inbreek,” het Farell gesê.

Kaptein Eddie Hall, woordvoerder van Witbank Polisie, het gevra dat inwoners die gevalle moet rapporteer waar diere vergiftig word. “Ons moet dit weet om te verstaan wat die misdaad-tendens is. Dit kan heel moontlik ’n sindikaat wees wat verantwoordelik is vir die gevalle. Deur hierdie sake aan te meld kan ons ook bepaal hoeveel polisievoertuie watter areas moet patrolleer.”

Donderdag 15 Mei, het onstelde inwoners WITBANK NUUS gekontak toe die oorskot van ’n hond in Watermeyerstraat aangetref is. Die dier was half weggesteek onder ’n swart vullissak. Met al die onlangse klagtes van hondevergiftigings, meen die diereliefhebbers, is dit die ‘laaste strooi’. “Ek kan nie glo mense kan dit doen nie! Sulke mense moet nie diere hê nie,” het een van die ontstoke inwoners gesê.

Die plaaslike Dierebeskermingsvereniging het gewaarsku dat mense wat skuldig daaraan gevind word om dooie diere in strate of residensiële gebiede te los, swaar beboet word.

Exit mobile version