Editor's choiceLocal newsNews

Hendrik reg vir chemoterapie

“Asseblief,” dit klink soos ’n smeekgebed as Hendrik Botha dit sag uiter.

Hendrik, amper 21 jaar oud, tel die minute af want Saterdag 17 Mei word daar ’n groot poging aangewend om vir hom fondse in te samel vir prostese nadat sy regterbeen op 2 April geamputeer is.

Hendrik het Eving Sarcoma kanker, die kanker tas die weefsel langs die been in sy liggaam aan. Soos die kanker vorder tas dit later ook die beenmurg aan.

Hendrik se ma, me. Drienie van Staden het gesê dié kanker mimiek ’n sportbesering en hulle het gedink dis ’n sportbesering wat hul seun so opkeil toe hy verlede jaar gekla het oor ’n seer brandpyn in sy been.

“Ons kon net nie die oorsaak van die brandpyn kry nie. Ek het gedink hy het dalk een van sy spiere seergemaak omdat die brandpyn begin het net nadat hy een aand van die gimnasium afgekom het,” het Drienie vertel.

Drienie het salf gaan koop en toe Hendrik se knie begin swel het sy gedink hy het dalk inflammasie.
Vir Hendrik het die pyn al hoe meer intens geword en skielik het hy baie gewig begin verloor.

“Dis toe hy so skielik begin gewig verloor dat ek meer bekommerd begin raak het. Ek het besef dis nie net ’n spier of inflammasie nie,” het Drienie vertel.

Omdat die jongman geen mediese fonds het nie, het Drienie hom na ’n staatshospitaal geneem waar ’n sonar op sy been gedoen is. Die sonar het ’n gewas uitgewys.

Op 2 Januarie is die slegte nuus aan die familie oorgedra, ’n magnetiese resonansie skandering  (MRI) het gewys dat die kanker al so ver gevorderd was dat die enigste oorblywende keuse was om die been af te sit.
“Dit is nie die einde van die wêreld nie. Ek leef…” het Hendrik gesê.

Die jongman het nie gaan lê en homself bejammer nie, “Ek gaan vooruit en gaan aan met die lewe, al is dit op een been. Onthou die lewe is net aan ons geleen.”

Saterdag 17 Mei word daar ’n motorfietsdag by Van’s Sportskroeg gehou om fondse in te samel vir Hendrik se chemoterapie.
Vir meer navrae, skakel Susan Jooste: 072 034 1654.

Back to top button