CrimeNews

13-jarige ‘vermiste’ dogter gevind

’n Man is gearresteer op klagtes wat verband hou met die 13-jarige dogter wat verlede week as vermis aangemeld is.

Die 36-jarige man is Maandag 12 Mei by sy werkplek gearresteer nadat die polisie inligting opgevolg het oor waar die dogter haar bevind.
Tydens sy inhegtenisname het die man gesê die dogter het haarself as ’n 17-jarige voorgegee.

Toe die dogter in die man se woonstel gevind is, het sy steeds volgehou dat sy 17 jaar oud is. Sy het later egter erken sy is net 13 jaar oud.
Die dogter se ouers het haar Vrydag 9 Mei as vermis aangegee.

Haar pa het Maandag met bewende hande haar foto by WITBANK NUUS ingehandig, sodat lesers kon help soek hul sy vermiste dogter. Die swart kringe om sy oë het vertel van die naweek waarin hy waansinnig na sy dogter gesoek het.
“Die Here weet, as sy iets moet oorkom,” het hy skor gesê.

Hy het vertel dat hy besig was om vleis te braai toe sy omstreeks 18:00 besluit het om ’n bietjie te gaan draf.
Sy draf gereeld op die grondpaadjie voor die kleinhoewe waar hulle ’n woonstel huur.

“Toe dit sterk skemer raak het ek bekommerd geraak en haar gaan soek. Die hek was toegeskuif en dis toe ek die hek se afstandbeheer in die paadjie kry dat die besef dat sy weg is my soos ’n vuishou getref het.”

Nadat hy seker gemaak het sy is nie in die woonstel nie het hy polisie toe gery waar hy in sy eie woorde van bakboord na stuurboord gestuur is.

“Die polisie het gesê hulle sal ’n dossier vir vermiste persone oopmaak as sy na 24-uur nie gevind is nie,” het die pa gesê.
Die ‘Pink Ladies’ ’n organisasie wat landswyd help met vermiste kinders is gekontak en ’n pamflet met die dogter se foto en haar inligting het oor sosiale netwerke gevlieg.

Vroeg Maandag het die pa by die plaaslike hoërskool waar die dogter nou in Gr.8 is gaan aanklop om te hoor of iemand nie dalk nog inligting het nie.

Die hoof het ’n polisieman van die Misdaad Intelligensie-komponent geskakel wat op sy beurt sy kontakte gebel het wat hom met positiewe inligting voorsien het.

Die dogter het gesê sy het die man ontmoet toe sy elf jaar oud was. Sy het hom weer glo by ’n winkel raakgeloop en toe met hom op die sosiale netwerk ‘Whatsapp’ begin gesels.

Uit die gesprekke wat die polisie op sy selfoon gekry het skryf sy onder andere, “Oky eke gaan al my klere agter by my venster st en dan gaan ek se ek gaan rond loop’.

In die daaropvolgende boodskappe kan dit duidelik gesien word hoe hulle haar ‘verdwyning’ beplan.
“Ek het bekommerd geraak toe my dogter so knaend op die foon gekuier het, dit het my geïrriteer. Ek weet nou sy het die heeltyd met die man gepraat,” het die pa gesê.

Hy het emosioneel geraak en gesê hy het soveel om voor dankbaar te wees, “Altesaam 1 600 mense het my gehelp om na haar te soek. Ek wou mal word van bekommernis, nou vat ek dit een dag op ’n slag, my dogter is terug …”
Die dogter het erken dat sy en die man twee keer die naweek intiem verkeer het.

Die man het Dinsdag 13 Mei in Witbank Landdroshof verskyn op klagtes van ontvoering, abduksie van ’n minderjarige en twee klagtes van verkragting. Hy is borg geweier en die saak is uitgestel vir sewe dae vir ondersoek.

Die dogter is na ’n plek van veiligheid geneem. Sy is later met haar ouers herenig.

2 Comments

  1. Is die 13 Jarige Dogtertjie regtug so ontskuldig. Ouers kan julle regtug julle kinders vertrou so wie moet jy glo is ontskuldig ????
    13 jarige DOGTERTJIES is nie so ontskuldig soos wat almal dink nie.Hulle is nie te jonk om te loop en lieg vir almal nie.Mans pasop ons is vandag die tuikens nie die jonger geslag nie.

  2. Ja, ek stem saam. Maar ek dink in alle geval dis ‘n man wat nie baie tussen die ore het nie, wat ‘n skool meisie sal help met sulke snert. Volgens my is albei ewe skuldig. En ek stel voor dat die ouers hul dogter na plek van veiligheid stuur. Dit sal rus vir die siel wees.

    En meisie mens, vroeg ryp, vroeg vrot.

    Bepaal jou by skoolwerk en nie mans nie. Jou tyd daarvoor sal kom. Maak iets van jou lewe, dit is waarop jy moet fokus.

    Hoop jou pa het jou oor sy skoot getrek, ek sou.

    Kinders van vandag weet nie wat Waardeering of Respek beteken nie.

    Jy het ‘n pa, waardeer en Respekteer hom!!!!

Back to top button