Help ’n bejaarde met sakgeld

Bejaardes is 'n nasionale en persoonlike bate, mense wat verdien om erken en waardeer te word vir die bydraes wat hulle gemaak het in die land waarin ons vandag leef.

Dit is egter so dat ons ouetehuise vol bejaardes is wat eenkant toe gestoot word en vergeet word – uit die oog, uit die hart.

By ons eie Immergroen Ouetehuis is daar ’n groot aantal inwoners wat sukkel om kop bo water te hou. Die pensioenverhoging van R80 wat hulle onlangs ontvang het is reeds te min om hul maandelikse losies te betaal. Geld vir toiletbenodighede is daar nie en sakgeld is net ’n droom.

Daarom het vrywilliger by Immergroen Ouetehuis, me. Wilna Botha ’n projek begin om die 56 inwoners wat werklik sukkel te probeer help.

Die Sakgeld-projek behels dat jy een van hierdie bejaardes ‘aanneem’ vir ’n minimum tydperk van ses maande. Jy borg dan ’n minimum van R100 per maand waarmee toiletbenodighede aangekoop word en iets lekkers deur die maand.

‘n R100 kan ‘n glimlag op ‘n eens gelukkige gesiggie sit.

As jy voel jy kan meer bydrae of meer as een persoon ‘borg’ sal dit baie help. Daar is ook klaar opgemaakte toiletbenodighede-pakkies teen R50 en R100 per pakkie wat by die R5 Price Beat Store aangekoop kan word.

Daar is 13 inwoners in die selfsorg-afdeling, 26 in die siekeboeg-afdeling en 17 inwoners in die 24-uur versorg-afdeling waaruit jy ’n naam kan kies.

Skakel gerus vir Wilna vir ’n naam: 013 692 5981. Bydraes kan by haar inbetaal word elke maand of jy kan dit direk in Immergroen Ouetehuis se rekening inbetaal: SAVF Tehuis, Absa rekeningnommer: 1360 410 028. Gebruik die verwysing ‘sakgeld’ en die persoon se naam wat jy borg.

Kom ons vat hande en help omsien na ons Goue Oues, hulle is dit steeds werd!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version