Volkspele is die bewaring van ons Afrikaanse kultuur

Niks kon die neefs en niggies van al die omliggende Volkspelelaers keer om hul dansskoene aan te trek en saam te sing en speel nie, selfs die feit dat daar tydens hul byeenkoms nie water of krag was nie.

Volkspelers het Saterdag 12 April tydens Swartgoudlaer  se saamtrek getiekiedraai op al die ou Afrikaanse volkspele liedjies.
Daar is tans 26 neefs en niggies’ verbonde aan die plaaslike laer, wat elke Donderdag-aand bymekaarkom om volkspele te speel.

“Ons is baie familie georiënteerd en is self soos een groot familie. Ons heg meer waarde aan mekaar en Godsdiens is vir ons ook baie belangrik,” meen Louwtjie Roets, leier van die Swartgoud-laer.

Die samesyn en bande wat die volkspelers vorm met mekaar maak dit beslis die moeite werd om die ou tradisies te behou.
Tydens Saterdag sy byeenkoms is twee baie spesiale lede, Hansie en Marie le Roux vereer vir 45 jaar  wat neef Hansie le Roux voorsitter was van die Suidoos Wyksbond waarvan die Swartgoud Volkspelelaer deel is.

Vanjaar is die tradisie van Volkspele dan ook 100 jaar oud en daar word sommer heelwat spesiale geleenthede regoor die land beplan.

Die eerste fees het reeds by Boshof op 28 Februarie, waar volkspele begin het, plaasgevind.

Die Volkspele byeenkoms Saterdag 12 April is deur een en almal geniet.

Tydens die naweek van 30 Mei tot 1 Junie word ’n fees, naby Pretoria gehou met internasionale volksdansers op die Vrydagaand, Saterdag Volkspele en vyf kore sal optree tydens die Sondag-diens.

In Julie kom dansers van België vir ’n spesiale twee weke toer saam met plaaslike volkspelers toer en in Oktober bring die Duitse dansers besoek. Die hooffees vind die naweek van 10 tot 12 Oktober in  Bloemfontein plaas.

Vir enige inligting of navrae, bel gerus vir Johan de Beer: 082 443 3783 of e-pos: jdebeer@afgri.co.za.

Exit mobile version