CrimeNewsUpdate

So lyk die panga-man

Na vyf weke is daar ’n gesigsamestelling van die panga-man.

Me. Rina Fourie het die panga-man soos sy een van haar aanvallers gedoop het, uiteindelik uit haar gedagtes uit op papier neergesit.  “Die polisie se gesigssamestelling-spesialis was deeglik en het elke fyn karaktertrek geskets, dit is asof hy ’n foto van my gedagtes gedruk het,” het sy verlig gesê.

Dinsdag 15 April is elke stukkie selfbeheersing uit Fourie se menswees gedruk toe sy die man moes beskryf wat haar en haar verloofde, mnr. Deon van der Merwe op 7 Maart by Pienaarsdam met ’n panga aangeval het.

Die panga-man en vyf van sy makkers het hulle omstreeks 01:00 in hul boshut oorval.
Van der Merwe is genadeloos met ’n vier-pond hamer oor die kop geslaan terwyl Fourie aanhou pleit het vir sy lewe.

Terwyl Van der Merwe bewusteloos op die grond gelê het, het die panga-man sy aanval op Fourie toegespits en haar oor die bors, arms, hand, maag en blad met die panga gekap.

Nadat sy haar beursie vir hulle uitgewys het, het die barbaarse aanval opgehou, maar nie voor die panga-man omgedraai en aan haar gesê het hy kom terug vir haar nie.  “Ons tel die stukke van ons lewe op. Dit is moeilik, want ek kan nie die gedagtes uit my kop vee nie,” het Fourie skaars hoorbaar gefluister: “Ek is bang!”

Een van die verdagtes Mduduzi Nkosi is kort na die aanval deur Fourie uitgeken toe ’n foto van hom na haar aangestuur is.
Nkosi word uitgeken aan die manier hoe hy sy slagoffers met ’n hamer slaan. Hy het in Desember 2009 ontsnap terwyl hy verhoorafwagtend was op roofsake. Skaars 12 dae na sy ontsnapping word hy verbind met ’n plaasaanval waar hy die slagoffer met ’n hamer aangeval het. Op 22 Januarie is hy verbind met nog ’n plaasaanval waartydens mnr. Johan Venter doodgeskiet en sy vrou Rentia ernstig gewond was.

Hy is in Carolina gevang, maar het die gereg weereens ontglip toe hy in 2013 uit die polisieselle in Middelburg ontsnap het.
Die polisie is nog steeds op soek na hom.

As jy die man op die gesigsamestelling herken skakel die ondersoekbeamptes a.o. Boss Makwena of
a.o. Tobias Mogadime: 079 878 7941.

Back to top button