Hollywood wink vir Renaldo

eMalahleni se filmster mik vir Hollywood

Hy vertolk die rol van ’n boelie – ’n nagmerrie vir enige graad 8 laaitie – met meer spier as verstand. Tog is die jong man agter skerm sag en briljant, met ’n bree wit glimlag en oë wat lag.

Agent 2000: Die Laksman het onlangs by teaters begin draai. Renaldo Botha, oud-leerling van Hoërskool Generaal Hertzog en eMalahleni se nuutste filmster, het ‘n bietjie meer oor die film en sy rol gesels.

“Agent 2000 gaan oor Walter du Toit, wat die Laksman moet plattrek. Die Laksman is ‘n boelie wat die leerders van Hoërskool

Renaldo Botha – oud-Hoërskool Generaal Hartzog leerder.

Randburg terroriseer,” verduidelik hy vlugtig en meen dat alhoewel wil voorkom asof Agent 2000 ‘Spy Kids bloed in hom het’, dit ook ’n heeltemal unieke gevoel het en heeltemal wegbreek van die Hollywood films. “Dit is ‘n ‘waaghalsige’ fliek omdat dit iets is wat nog nie in Suid-Afrika gesien is nie. Dit het ‘gadgets’, ‘slow motion’ aksie tonele en ‘graphics’ wat ‘n eerste vir die Suid-Afrikaanse filmbedryf is,” vertel Renaldo en sê dat dit beloof om die weg te baan vir soortgelyke flieks in Suid-Afrika. “Dit is ‘n groot voorreg om deel te wees van
iets soos dit.”

“Ek vertolk die rol van Dievan. Hy is ‘n leier in die skool
en sy hoofdoel is om die graad 8’s se lewe hel te maak tydens die oriënteringstydperk. Natuurlik, as gevolg van
die feit dat hy gereeld op die graad 8’s neerdaal en hulle verneder, word hy een van Walter du Toit se verdagtes vir die Laksman. Dievan is eintlik daai stereotipiese boelie
wat rugby speel en alles wil reg slaan, maar nie vreeslik baie tussen die ore het nie,” beskryf Renaldo sy karakter.

Renaldo het die rol in Agent 2000 los geslaan nadat sy agent, Brumilda van Rensburg, hom laat weet het van die oudisie. “Ek het aanvanklik gaan oudisie vir die rol van die hoofseun, maar Film Factory het dit goed gedink om my die rol te gee van Simson. Simson is toe later voor verfilming opgedeel in twee karakters wat Ivan en Dievan geword het.”

Renaldo het pas laas jaar by HGH gematrikuleer en die skool kan nie trotster wees op hul spog student en oud-hoofseun nie.
“Ek dink ek is aanvanklik as ‘n lopende mond gesien by Hertzog,” het hy laggend vertel. “Ek was raakgesien toe ek in 2009 na die ATKV Nasionale Redenaarskompetisie toe was en dit uiteindelik in 2010 gewen het. Van toe af was ek ‘n gereelde gesig by die ATKV se Nasionale Redenaars asook Debatskompetisies. Ek het weer laasjaar derde in die land geëindig met die Redenaars se Landswye Finaal,” het Renaldo vertel. “Sportsgewys was ek in die Interhoër atletiekspan en het van graad 10 vir HGH aan die PUK 16 Prestige byeenkoms gaan deelneem. Ek het ook vir my skool se eerstepan hokkie gespeel.”

Renaldo meen egter dat sy eerste groot liefde nog altyd toneelspel was.
“Dit het begin in 2010 toe ek in graad 9 was, met ‘Joseph and His Amazing Technicolor Dreamcoat’. Daarna het ons die toneel ‘Noodkrag word met generators opgewek’ ingeskryf vir die ATKV Tienertoneelkompetisie. Ek het ‘n silwer sertifikaat gekry vir my rol

‘Die Man’. In 2012 het ons weer eerste in Mpumalanga geëindig met die toneel ‘Naghings’. Daardie jaar was ek die eerste akteur in die provinsie om ‘n goue sertifikaat in die Tienertoneel kompetisie te verwerf. Ek dink ek is ook nog die enigste om dit te kon doen,” kon Renaldo met trots vertel.

Die ‘cherry op die koek’, soos Renaldo sê, was toe hy die rol van ‘Danny’ in HGH se weergawe van ‘Grease’ kon vertolk het. “Dit is meeste akteurs se droom om hierdie rol te kan vertolk. Al die bogenoemde produksies was onder die regie van Mnr Bennie Botha, wat nou ‘n baie goeie vriend van my is.”

Renaldo op die stel van Agent 2000: Die Laksman saam met Paul Loots en Izel Bezuidenhout.

Met al die ondervinding en prestasies kan Renaldo nou uitsien na ’n blink toekoms. “Ek het vir baie lank nie geweet presies wat ek wil wees of wat ek wil gaan doen nie. Al wat ek geweet het, is dat ek mal is oor die kunste en dat ek iets in daardie rigting wil doen. Na die Naghings-produksie wat ons aangepak het, het ek geweet ek wil definitief ‘n akteur word.”

Renaldo meen dat sy gesin altyd sy grootste inspirasie sal bly. “Hulle staan agter my deur dik en dun en ondersteun my 100 persent, al is dit nie altyd vir hulle maklik nie.”

Renaldo het dan ook ’n paar akteurs genoem wat hom inspireer om sy beste op die verhoog en agter die skerm te lewer. “Robert Downey Jr. was vir my nog altyd ‘n briljante akteur gewees. ‘n Paar ander name wat ek altyd opnoem is Leonardo di Caprio (veral in The Wolf of Wall Street) asook Andrew Garfield. Plaaslik is ‘n goeie vriend van my, die opkomende akteur Tiaan Kelderman, ‘n figuur waarna ek opkyk. Ek voel ek moet Marius Weyers se naam hier noem, siende dat ek baie van sy films nagevors het vir ‘n rol of twee wat ek al vertolk het.”

Die maak van Agent 2000 was veral ’n groot belewenis vir Renaldo – een wat sy toekoms nog blinker laat wink.
“Geen klaskamer kan jou voorberei vir die fisiese ervaring wat mens opdoen op stel nie. Die lang ure is nie altyd kinderspeletjies nie. Soms sit jy heeldag op stel om een toneel te skiet wat eers aan die einde van ‘shooting’ geskeduleer is terwyl jy ander dae skaars kans kry om weg te glip badkamer toe. Tog sal ek dit vir niks in die wêreld verruil nie. Jy ontmoet ‘n nuwe familie op stel en jy leef en lag en huil saam met hulle. Dis partykeer nog snaaks om myself te sien op die skerm. Omdat ek meestal verhoogwerk tot dusver gedoen het, is dit moeilik om ‘kleiner’ voor die kamera te speel en ek let baie op daarna as ek vir myself kyk. Ek glo dat dit met tyd beter sal raak. Ek is baie krities op myself.”

eMalahleni se filmster het ook ’n bietjie meer van homself as persoon gepraat en van sy stokperdjies vertel:
“Ek speel baie Xbox, soms meer as wat vir my gesond is. Ek geniet dit om flieks te analiseer, uitmekaar te trek en te kyk wat werk daarin en wat nie. Lees en draf val ook onder my stokpedjies. My vriende sê ek is bietjie van ‘n ‘geek’ en ek is ‘n selferkende perfeksionis en ‘germophobe’ (het bietjie van ‘n vrees vir kieme, veral as dit iemand anders s’n is).

Tans is ek besig om BA Drama by Tukkies te swot. Ek het sopas klaar geskiet aan ‘n nuwe Afrikaanse film: Suurlemoen, wat gebasseer is op die boek deur Jaco Jacobs. Ons is ook besig om te repeteer aan ‘n verkorte weergawe van Othello, wat middel Mei se kant in Pretoria opgevoer gaan word.”

Hollywood kyk uit! Hier kom eMalahleni se blinkste ster, Renado Botha.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version