MunicipalNewsUpdate

Spoedbeheer belangrik in OR Tambostraat

“Hoeveel mense moet nou nog sterf op die pad voordat daar daadwerklik iets gedoen word omtrent die saak?” was die reaksie van ’n ontstoke inwoner.

Drie weke gelede is die voorstel deur motoriste en lede van die gemeenskap vir spoedhobbels in OR Tambostraat, van die hand gewys.
“OR Tambo is ’n Klas 2 pad of hoof arteriële pad wat op dieselfde vlak van belang beskou word as die N2, N3, N12, ensovoorts. Spoedhobbels is nie toelaatbaar op die tipe pad nie. Die spoedlimiet is 70km/h, so diegene wat die spoed oorskry moet dan vervolg word. Klousule 3.3 van die konsep verkeersbeheer toestel stipuleer dat die ‘beginsel filosofie in die evaluering van potensiële verkeerbeheermaatreëls gevare op paaie moet verhoed en nie die verkeer beïnvloed op hoofpaaie nie’,” het mnr. Lebohang Mofokeng, woordvoerder van eMalahleni Munisipaliteit, in ’n e-pos verklaring gemeen is die rede hoekom spoedhobbels nie werkbaar is nie. Mofokeng het voorgestel dat ’n vierrigting stopstraat opgerig kan word waar OR Tambo met Woltemadestraat kruis.

Mnr. Johan Taljaard, DA-raadslid en voorsitter, het onlangs ook sy mening gegee oor die saak en bygevoeg dat wat eintlik nodig is, is ’n ‘traffic calming system’ – in ander woorde: ’n spoedbeheer-sisteem.
“Mens kan voorbeelde van só ’n sisteem in Middelburg sien, waar verkeersirkels en eilande bestuurders verhoed om vinniger te bestuur. Dit werk soos ’n bom!”

Taljaard meen dat stopstrate miskien nie so effektief kan wees om bestuurders te dwing om by die spoedgrens te hou nie.
“Sover is daar nog nie ’n stopstraat nie,” het Taljaard gemeen en gesê dat dit eers kan bewys word of die stopstraat dan kan werk of nie.

*Geen terugvoer is van die munisipaliteit ontvang voor druktyd nie.

Voorbeelde van spoedbeheer sisteme.
Voorbeelde van spoedbeheer sisteme.

Back to top button