CrimeNews

Geleentheid vir grypdiewe in stilstaande verkeer

“Die verkeer het tot stilstand gekom as gevolg van die groot slaggat in die pad en dis toe die een sy arm by die venster indruk...”

Mnr. Hendrik van der Sandt het die gebeure herroep nadat hy, soos talle ander, teiken geword het van grypdiewe in die onderdorp.

Van der Sandt, bestuurder by Transnet, het vertel hoe hy op Maandag 17 Maart in Mainstraat deur drie grypdiewe voorgekeer is in sy voertuig en van sy besittings beroof is. “Naby die voetbrug is daar sulke groot slaggate dat die mense nie anders kan as om te stop,” het Van der Sandt vertel en gesê dat hy tot stilstand gekom het agter die ander voertuie toe ’n man skielik sy arm by die oop venster indruk.

“Dit het so vinnig gebeur. Toe ek weer sien is daar nog twee en hulle ruk toe die deur van my voertuig oop.”  Van der Sandt vertel hoe hy met die drie verdagtes gestoei het en hoe hulle die goue kettings van sy nek en arm afgeruk het.

“Ek het die deur weer toe gekry. Met die een se arm wat in die opgedraaide venster vasgevang was het ek so ’n ent gery terwyl hy langs die kar gehardloop het, maar hy het teen die venster gehamer en ek was bang hy slaan dit uit.”

Na die man losgekom het, het die verdagtes met hul buit gevlug.
“Geen van die ander mense wat om my gestaan het, het probeer help nie,” het Van der Sandt gesê.
Van der Sandt het vertel dat een van sy kollegas ook ’n vorige keer op dieselfde plek teiken geword het van grypdiewe.

Hy meen dat die slaggate in die pad ook diewe se taak vergemaklik, wanneer bestuurders dan eers moet stop voor die gate – wat baie skade kan aanrig aan ’n voertuig.

One Comment

  1. Ek dink hierdie witbank nuus bbm is die beste ding ooit. Dit hou ons op hoogte van als wat in ons dorp aangaan en gee ons die geleentheid om ons opinie te lig. Opportuniste is altyd orals. Hou maar die kar vensters toe en die deure gesluit

Back to top button