Local newsNews

Lida het ’n hart van goud

Lida Posthumus se hande staan vir niks verkeerd nie.

Dié talentvolle vrou is sopas aangewys as die Vroue Landbou-unie se Voorsitter van die Jaar, asook Skakelbeampte van die Jaar tydens die Carpe Diem Streekskonferensie wat onlangs plaasgevind het.

As ’n persoon vir Lida begin ken, kom jy gou agter dié vrou het ’n hart van goud, wat glad nie skroom om hand uit te steek en te help waar sy kan nie.

Tannie Lida, soos sy maar aan almal bekend is, is in eMalahleni gebore en het grootgeword op ’n plot langs  Springboklaan.
Sy het haar skoolloopbaan by Laerskool Klipfontein begin en daarna verhuis die gesin na Vereeniging waar sy haar laerskoolloopbaan voltooi.

Sy begin en eindig haar hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Drie Riviere, waar sy veral uitgeblink het in sport – tennis, kolfbal en swem.
“Die een onderwyser was ook ons buurman, so ek en my broer het sy mini elke Vrydag gewas in ruil dat ons in die week saam met hom skool toe ry. Die ander kinders was baie jaloers daaroor,”  onthou Lida met nostalgie.

Dit is ook in haar hoërskooldae wat sy op die aantreklike Dirk Posthumus verlief geraak het.

Die skoolliefdes is later getroud en het na Arnot verhuis, waar Dirk by Arnotmyn begin werk het.
Lida was ’n huisvrou en het gereeld tennis gespeel om fiks te bly. Dit was immers ’n sport wat sy al van 10-jarige ouderdom speel. “Daardie tyd het ons nog op ’n grondbaan gespeel met hout tennisrakette.”

“Ek het baie tennis gespeel, dit was my lewe en ek het ook baie in ligas gespeel. So vyf jaar terug het ek opgehou speel.”
In Arnot is Dirk en Lida se eerste kind gebore, Melinda, en daarna verhuis die jong paartjie na Kriel en daarna Standerton.
Intussen is hulle tweede kind, Dirk, gebore en weer verhuis hulle, hierdie keer na eMalahleni.

Lida sluit in 2006 by die Balmoral Vroue Landbou-unie aan. Dit was ’n plaastak waar sy as skakelbeampte diens gedoen het vir drie jaar.
“Ek het baie by die tak geleer en baie daar gedoen en in 2008 is ek aangewys as Skakelbeampte van die Jaar.”

Lida Posthumus hou een van haar toekennings vas.
Lida Posthumus hou een van haar toekennings vas.

In 2009 skakel sy by die Witbank Vroue Landbou-unie tak in.
In 2011 wen sy spesiale pryse vir haar pragtige handvlyt-items tydens die streekskompetisie en in 2012 word sy weer aangewys as die streek se Skakelbeampte van die Jaar.

Tydens die streekskonferensie vanjaar word Lida weer aangewys as Skakelbeampte van die Jaar en dra sy ook die titel van Voorsitter van die Jaar.
“Ek geniet die VLU baie. Ons doen, uitreikingsprojekte, fondsinsamelings, neem aan kompetisies deel, onderneem uitstappies na interessante plekke – ons is vroue wat graag ’n verskil maak,” het Lida trots vertel.

Dié ouma van twee kleinkinders is altyd aan die gang, maar dis haar liefde vir en bedrywighede by die Vroue Landbou-unie wat haar ’n vrou maak wat ’n verskil in die gemeenskap maak.

Back to top button