CrimeNews

Gevaarlike vullis verwyder

Die rooi afval-massahouer staan tussen die hope vullis op die stortingsterrein wat op die oog af onskuldig lyk.

Die inhoud van die houer lê dik op die gronde van die vullisterrein en omgewingsbesorgdes krap kop oor die chemikalieë wat dalk ’n risiko vir die omgewing kan inhou.

Die olie wat op die stortingsterrein vloei voordat dit van die terrein verwyder is.
Die olie wat op die stortingsterrein vloei voordat dit van die terrein verwyder is.

Foto’s wat onlangs na WITBANK NUUS gestuur is wys hoe ’n vragmotor wat afval vervaardig na eMalahleni se stortingsterrein, die inhoud van rooi massahouers op die terrein stort.

“Gevaarlike afvalhouers is rooi. Dit word geseël sodat daar nie skadelike afvalmateriaal lek nie,” het me. Hannalie Pienaar, ’n inwoner en omgewingsbewuste, gesê.

Die storting van die afvalmateriaal wat in dié houers geberg is, word deur Pienaar bestempel as ’n groot bekommernis. “By die huis en by die werk probeer ons herwin en dis ontstellend dat groot besighede by ’n normale vullishoop, wat nie die tipe chemikalieë kan verwerk nie, hul afval kom stort,” het Pienaar gesê.

“Dié materiaal wat gestort is, is staal filters en tromme
gevul met olie – hierdie materiaal is veronderstel om te gaan na gespesialiseerde stortingsterreine wat voorsiening maak vir gevaarlike afval en daarmee wegdoen sonder om die omgewing skade te doen.”

Pienaar was bekommerd dat die olie wat gestort is met tyd in die water sal opeindig en die situasie vererger.
Na Wastegroup gekontak is oor die probleem met die skadelike afvalmateriaal, het hulle onmiddellik gereageer en op Dinsdag 18 Maart, ’n verklaring uitgereik om die situasie aan te spreek.

“Ons was nie bewus van die voorval tot nou toe nie. As ’n Afvalbestuur  Maatskappy wil ons dit duidelik maak dat ons onsself absoluut distansieer van enige onwettige storting, veral wanneer dit kom by afvalverwydering by die verkeerde fasiliteite,” het die verklaring gelees.

“Ons kan bevestig dat die twee werknemers verantwoordelik vir die voorval, onmiddellik geskors is hangende ‘n dissiplinêre verhoor.”

Volgens interne ondersoeke is daar bevind dat die werknemers verantwoordelik vir die voorval nie besef het dat daar olie in die houer was nie.

Mnr Brendan Sterley, Wastegroup depot bestuurder in eMalahleni, het ook onmiddellik gereageer deur instruksies te gee vir ’n skoonmaakoperasie om enige skade te voorkom

Back to top button