Local newsNews

Vyfde motorfietsryer sterf dié jaar

Nog ’n lewe is deur ’n motorfietsongeluk weggeruk.

Me. Adele Lubbe (43) is die vyfde motorfietsryer wat binne net twee maande in ’n motorfietsongeluk op die stad se paaie dood is.
Lubbe is Vrydag 28 Februarie omstreeks 17:03 in ’n ongeluk op die Bethal-pad net voor die Olifantsbrug dood nadat sy kop-aan-kop met ’n Toyota Condor bussie gebots het.

Mnr. Calvin Gunha, die bestuurder van die bussie het gesê hy was op pad van Ga-Nala na eMalahleni om ses mense by die werk af te laai toe die ongeluk gebeur het.

“Ek het ’n motorfiets in my baan sien aankom. Ek het regs geswaai om ’n ongeluk te vermy, maar die motorfietsryer het skerp links terug geruk om in haar eie baan in te kom. Met die wat ek weer links probeer draai het om die motorfietsryer kans te gee om verby te gaan het sy die motorfiets weer skerp regs gedraai en my reg van voor af gestamp,” het Gunha die ongeluk beskryf.

Nooddienste het kort daarna op die toneel opgedaag en Lubbe na Witbank Hospitaal vervoer waar sy later dood is.
Lubbe was op pad na Komatie om vir ’n vriendin te gaan kuier.

Vir haar vriende en familie het die werklikheid van haar dood nog nie ingesink nie.
“My ma was ’n uitsonderlike stukkie mens,” het haar seun Garreth gesê. Sy selfoon lui aanhoudend en die boodskappe van simpatie stroom in.

“Adele het met oorgawe geleef, sy het Garreth met oorgawe liefgehad, sy het met oorgawe gelag en was ook met kere met oorgawe ‘stout’. As jy haar ontmoet het, sou jy haar nooit vergeet het nie, want Della was maar net Della,” het een van haar vriendinne, me. Adré Robinson gesê.

Lubbe se begrafnis word Vrydag om 14:00 by die Victory Life Kerk , Merlin Crescent in Ga-Nala gehou.

Lubbe was ’n oud-leerling van Hoërskool Ogies.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button