Local newsNews

Ongeluk eis familieman

’n Man is dood na ’n tragiese ongeluk vroeër die week, toe die motor wat hy bestuur het reg van voor met ’n trok gebots het.

Die ongeluk het Maandag 3 Maart omstreeks 12:00 op die R545, onderweg na Kusile Kragstasie, gebeur.
Mnr. Billy van Dyk, ’n inwoner van Centurion en sake ontwikkelingsbestuurder by Sasol hoofkantoor, was met sy silwer Mahindra op pad na Kusile Kragstasie toe hy kop-aan-kop met ’n 20 ton trok gebots het.

Mnr. Billy van Dyk (54) saam met sy vrou, Alda.
Mnr. Billy van Dyk (54) saam met sy vrou, Alda.

Die Mahindra is reg onder die trok in en is omtrent 60 meter gesleep voor dit gestop het. Van Dyk is op slag dood.
Die trokbestuurder, mnr. Hermanus van Rensburg het ligte beserings opgedoen.

’n Kraan van Kusile Kragstasie is ingebring om die wrak onder die trok uit te haal.
“Billy was baie lief om in die tuin te werk en het dit geniet om gholf te speel, net soos Danie en ek. Ek onthou as kinders het ek en Danie op ’n trein geklim en na Welkom gery om by Billy en sy broer te gaan kuier vir die skoolvakansie,” het kapt. Eddie Hall gesê oor sy neef.

Ook kol. Danie Hall het sy neef beskryf as “’n man wat vir sy familie, sy vrou, dogter en sy kleinkinders, geleef het.”
Van Dyk se oudste kleinkind het Maandag haar vierde verjaardag gevier – sonder oupa.

Van Dyk los sy vrou Alda, dogter Natasha en sy twee kleinkinders agter.

*Geen begrafnisreëlings was teen druktyd nog bekend nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button