Local newsNews

Padongelukke neem toe

Soveel as 30 botsings en ongelukke is oor die naweek by Witbank Polisiestasie alleenlik aangemeld.

Vrydag 14 Februarie, terwyl menige die Dag van Liefde gevier het, was daar motoriste wat hul aand in die hospitaal moes deurbring.

Die donker hoek in OR Tambostraat – deur sommiges gedoop as: ‘die pad van die dood’ het ook twee ongelukke Vrydagaand gehad.

Die bestuurder van ’n Volkswagen Polo het vertel hoe hy van die ou-Middelburgpad in OR Tambostraat ingedraai het toe hy beheer oor sy voertuig verloor het. Een van die voertuig se wiele het skade gekry op pad, wat die man vertel vermoedelik die oorsaak van die ongeluk was. Die bestuurder het geen ernstige beserings opgedoen nie.

Omstreeks 24:00 Vrydag was nog twee voertuie in ’n botsing in OR Tambostraat betrokke. Die wrak van ’n rooi Hyundai het ’n paar meter van ’n rooi Chevrolet, met ’n ingeduikte deur, gestaan. ’n Paar bystanders het angstig langs die pad gestaan en toekyk hoe Langamed Emergency Management met die 19-jarige bestuurder van die Hyundai hospitaal toe haas.

Die passasier wat saam met die jong man in die motor gery het, het ongedeerd uit die wrak gekom. “Gelukkig het ons, ons veiligheidsgordels aan gehad,” het die man op die toneel vertel.
“Hy sal orraait wees,” het hy dan van sy jong vriend gesê. “Met die impak moes die stuurwiel hom seker seergemaak het.”
Langs OR Tambostraat staan daar steeds talle kruise en herinneringe van motoriste wat nie so gelukkig was om weg te kon loop van ongelukstonele nie. Vir sommige families en gesinne bly dit ’n hartseer gesig.

“Slaggate, elektrisiteit0 en waterprobleme is nie die enigste groot kommerwekkende probleem tans in eMalahleni nie. Groot hartseer heers vandag in baie huishoudings as gevolg van geliefdes wat gesterf het op die paaie van ons dorp,” het me. Yolanda Minnaar ’n paar weke gelede in ’n brief aan WITBANK NUUS geskryf.

Minnaar meen dat daar, ná soveel ongelukke op dié pad, steeds niks gedoen is om die pad te beveilig en padgebruikers te forseer om by die spoedgrens te hou nie.

Sy het voorgestel dat ‘spoedhobbels’ dalk die antwoord is.
*Om jou mening te lig oor ‘spoedhobbels in OR Tambostraat’, besoek WITBANK NUUS se Facebook-blad en lewer kommentaar.

Back to top button