CrimeNews

Gesin in huis oorval

Die merke van die kabelbinders wat hul hande geboei het is nou weg, maar die nagmerries spook steeds by die Geringer-gesin nadat hul deur rowers in hul huis aangeval is.

Me. Annatjie Geringer en haar man, Jan, vertel van die voorval wat op Donderdagaand 6 Februarie by hul huis in Reynorif plaasgevind het. “Dit was net so rondom 19:45 wat dit gebeur het en teen 20:00 was alles verby,” het me. Geringer vertel. Sy onthou die oomblik voor die roof nog so duidelik asof sy dit weer sien gebeur. “Ons seun het by die eetkamertafel gesit en sy huiswerk doen en ons dogter was in haar kamer.”

Die egpaar vertel hoe hul, hul hond hoor blaf het en mnr. Geringer gaan kyk het wat aangaan. “Toe ek by die deur is staan hul voor my,” het hy vertel en gesê hoe hy ’n kierie na die vreemde man gegooi het om hom te probeer keer. “Dit was klaar te laat en hulle is toe by die huis in.”

Me. Geringer het verder vertel hoe die vyf mans ingestorm gekom het. Twee was glo gewapen. Sy onthou hoe een van die booswigte haar man, met een van die vuurwapens oor die kop geslaan het. Sy onthou ook haar vrees toe ’n ander in hul dogter se kamer ingegaan het en hul haar hoor skree het. “…Ons het eers gedink hul doen iets aan haar,” het Geringer met ’n sidder herroep. “Maar hulle het haar net uitgebring na ons en ons almal toe vasgebind.”

Terwyl die Geringer-gesin vasgebind op die vloer moes lê, het die rowers die huis deursoek. “Hulle het alles gevat. Beursies, selfone, laptops (skootrekenaars)… als. Ons was rustig toe en het vir hul gesê waar alles was – ek dink dis die rede dat hul ons darem nie seergemaak het nie. Ons wou net hê hul moet die goed vat sodat hulle kan loop.”

Geringer vertel dat hul dieselfde dag nog ’n splinternuwe Nisan Xtrail gekry het. “Die kar was nog nie eers geregistreer nie.”
Met hul buit en die nuwe voertuig het die rowers toe gevlug. Mnr. Geringer het kort daarna sy hande los gekry en na hul bure toe gehaas om hulp te soek. Die buurtwag en polisie was spoedig op die toneel, maar die verdagtes was reeds weg.
’n Saak van huisroof word tans ondersoek. Geen arrestasies is sover gemaak nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button