Local newsNews

Perdevrou se lag nou stil

‘Omgee-vrou’ se dood laat groot leemte

Terwyl paramedici besig was om te veg om die tingerige vrou in die bakkie se lewe te probeer red het omstanders met uitgestrekte arms na bo hardop gebid dat sy tog net sal bly leef.

Net na die gebed was daar ’n flouerige polsslag, maar kort na haar aankoms by Life Kosmos Hospitaal het me. Somarie Scherman (45) aan haar beserings beswyk.

Scherman het ernstige interne beserings opgedoen in die ongeluk wat Woensdag 15 Januarie omstreeks 18:35 op die ou-Middelburgpad gebeur het.

Sy was van eMalahleni af onderweg huis toe, toe sy naby Rafiki beheer oor haar silwer Ford Ranger bakkie verloor het en die buitemuur van Rafiki getref het. Die impak het die bakkie op sy sy laat rol en Scherman is onder die bakkie vasgekeer.
As eienaar van Pal-a-Mino Adventures was Scherman welbekend as perdeafrigter- en terapeut.

Die dag na die ongeluk was die toneel waar die ongeluk gebeur het besaai met blomme en foto’s van dié geliefde vrou wat altyd geglimlag het.

Mnr. Gerard Scherman, Somarie’s se man van 21 jaar lank, het net goeie herinneringe van sy vrou.
“Sy was ’n mense, mens. Sy het mense geniet en dit geniet om mense te help. Somarie het baie mense aangemoedig en werklik omgegee,”  het Gerard gesê.

In die pamflet, wat tydens haar afskeidsdiens uitgegee is, skryf Gerard die volgende roerende boodskap: “Wat kan ek sê my liefie, jy was my sonskyn, my sexy ding, my hart se punt. Ek het jou so innig lief en gaan jou so BAIE mis. Geen meer braai op die stoep, ’n potjie pyle of kaarte nie… net ek en jy. My woorde is min, maar my hart vol van jou. Dankie dat jy, jy was en dat ek 21 jaar saam met jou kon deel. Rus lekker my skat, tot ek jou weer sien. Ek mis jou!!! Jou man vir altyd.”

Vir me. Rina ten Cate, Somarie’s se ma, was haar dogter baie spesiaal. “Sy het altyd geglimlag, ’n lieflike kind vol lewe. Dit was vir my altyd ongelooflik hoe sy met die Down-sindroom kinders gewerk het op die perde. Dit was wonderlik om haar mamma te wees”.

Mnr. Sjoerd ten Cate, Somarie se pa, onthou dat sy dogter ’n goeie onderwyser was en hoe sy dit geniet het om met die kinders te werk.

“Sal was mal oor ’n rooi pen, om boeke te merk,” het Gerard glimlaggend vertel.
“Jou stem wat nou stil geword het sal ’n groot gemis in my lewe wees. Jou bydraes op die plot tydens die ontwikkling daarvan om die perde te huisves sal my gedurig aan jou herinner, maar ook die drome wat jy nog gehad het. Die persoonlike verlies van jou heengaan is groot en daar is baie dinge wat my daaraan sal herinner, maar daar is ook baie wat vir my tot inspirasie sal dien. Ek is lief vir jou en mis jou baie,” was haar pa se laaste groet aan sy dogter.

Scherman se suster, me. Elsabé ten Cate het gesê dat haar suster ’n groot inspirasie vir haar was.
“Ons het sewe jaar verskil. Sy was baie lief vir perde. As ’n tiener was haar kamermuur vol foto’s van perde. Sy het in standerd ses begin perdry. Sy het alles lewe gegee, as ek ’n ding as ‘boring’ gesien het, het sy dit altyd interessant gemaak. As ek in ’n boekwinkel ingeloop het en ’n goeie boek gesien het, het ek haar dadelik gebel en vir haar van die boek vertel. My liefde vir diere kom van haar af,” het Elsabé gesê.

Om Somarie se nagedagtenis te laat voortleef gaan die perdeskool steeds voort. Chantall Roberts sal voortaan klas en terapiesessies aanbied.

“Ek wil hê dat Somarie se ‘legacy’ moet aangaan,” het Gerard gesê.
Scherman se afskeidsdiens uit die Christian Family Church is Maandag 20 Januarie deur sowat 350 roubeklaers bygewoon waar pastoor Warren Graham, ’n pragtige boodskap gebring het.

Somarie is in die afskeidspamflet, waar verskeie mense boodskappies geskryf het, bestempel as ’n vrou wat baie vir haar medemens omgegee het en altyd ingestem het om te help waar sy kan.

*Somarie was ook betrokke by WITBANK NUUS se Santa’s Workshop projek in Desember waar sy die kinders op perderitte geneem het.

Back to top button