Thomas, die jong man met vele talente

Maar die afgelope vyf jaar het sy liefde vir die sport geweldig gegroei en hy verbeter net elke dag

Vele talente is verskuil in een 11-jarige.

Thomas Oudtshoorn is klein maar die outjie se lewe bestaan byna uit sport, en sy ma, me. Adele Oudtshoorn het gesê sy en haar man het soms hul hande vol.

Een van sy Thomas se grootste liefdes is karate en hy het op 16 Maart aan die South African National Karate Championships (KSA) deelgeneem.

“Ek doen kumite want ek hou die meeste daarvan.” Hy het gedurende hierdie kompetisie silwer verwerf, na hy teen vier teenstanders meegeding het en drie uit die vier gewen het. “Dit was baie lekker in die Kaap,” het Thomas gesê. Adele het bygevoeg: “Dit was ons almal se eerste keer in die Kaap, ons was in Bellville. Ons het dit vreeslik geniet, die kinders wil natuurlik net teruggaan.”

Hoewel Thomas aan talle kompetisies deur die jaar deelneem, was sy vorige groot kompetisie die Arnold Classic 2018 waar hy brons verwerf het op 18 Mei.

“Hy gaan hierdie jaar terug, dan sal ons sien hoe gaan dit,” het Adele bygevoeg. Thomas is ook vir die afgelope drie jaar Mpumalanga-wenner vir karate. Hy is lid van die Mpumalanga Karate School of Champions Dojo onder sensei Themba Ndlovu en hul styl is Traditional Karate Africa. “Ek is nou op my groen belt, maar baklei met my blou belt. As ek volgende naweek slaag, dan kry en my blou belt,” het Thomas gesê.

Thomas se pa het hom oorspronklik ingeskryf vir karate, met die doel dat hy homself kan verdedig indien nodig.

Maar die afgelope vyf jaar het sy liefde vir die sport geweldig gegroei en hy verbeter net elke dag.

“Ek het dit maar net probeer en ek het baie daarvan begin hou,” het Thomas gesê. “Maar ek is ook mal oor my sensei.” Adele het gesê: “Dit is asof hy vreeslik opgewek raak voor ’n kompetisie, hy is heeltemal in ’n ander ‘mindset’. Hy wen ook gewoontlik met sy skoppe.”

Hy is in die 10-11 jaar, o.45 kilogram kategorie. Adele het gesê dat Thomas ’n ‘wil-wen’ houding het met elke kompetisie en sy glo dat dit hom dryf en bydra tot sy sukses.

Nie net is die karate-kind lief vir karate nie, maar hy is ’n leerder van Laerskool Klipfontein en speel rugby vir die skool en hy vang ook kompeterend vis.

Hy is lid van die Wolvekrans Hengelklub en het in die vorige seisoen derde gekom in die klub se mini junior kategorie.

“My grootste vis was ’n agt kilogram baber,” het hy breëbors vertel.

Nie net is Thomas ’n sportliefhebber nie, maar ook ’n voorbeeld vir kleinboet Daniël (8).

Daniël doen ook karate en het ook ’n paar medaljes wat in die huis pronk.

“Hy is nog klein, maar hy doen baie goed. Hy doen reeds karate sedert hy 3 jaar oud is. Hy is tans op sy oranje belt en hy gaan vanjaar aan die ‘Development’ vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelneem,” het Adele vertel.

Sy het ten slotte bygevoeg: “Die twee hou ons vreeslik besig. Soms ry ek met die een kind rond en my man met die ander een. Soms twyfel ons oor hoe ons alles gedoen gaan kry, maar ons doen wel.”

Exit mobile version