InternationalSport

Shumba Ferro’s is reg vir 2018

Die klub het reeds die bevestiging van ’n gesonde kern van huidige en nuwe spelers wat die nuwe seisoen vir Ferro’s gaan speel.

Aan die einde van nog ’n jaar is dit vir Shumba Ferro’s aangenaam om dankie te sê aan hul borge.

“Aan u almal en ook aan al ons spelers, afrigters, bestuurslede, skeidsregters en beamptes, ondersteuners en laaste maar nie die minste nie aan die Mpumalanga Rugby-unie, ’n besondere woord van dank vir elkeen se bydrae om die seisoen ’n sukses te kon maak in 2017. Aan u almal word ’n welverdiende ruskans oor Kerstyd en Nuwejaar toegewens,” het die bestuur gesê.

2017 was ’n jaar van gemengde welslae, maar uiteindelik het beide die eerste en tweede spanne in die uitklopbeker finale gespeel waar die eerste span die knie moes buig terwyl die tweede span inderdaad die beker verower het.

Die 2018 rugbyseisoen lê nou voor die deur met ’n druk program vol nuwe uitdagings.

Shumba Ferro’s wat tussen 2011 en 2015 Mpumalanga Super Liga kampioene was (2016 in die finaal verloor) en die Pumas twee keer by die Nasionale klub-reeks verteenwoordig het, is gepassioneer en oorgehaal om weereens eMalahleni en hul borge se naam hoog te dra in 2018.

Die klub verteenwoordig eMalahleni in die Premier Liga en kompeteer teen die spanne van Middelburg, Sasol, Nelspruit, Witrivier en moontlik Newcastle in hierdie uiters mededingende, top liga van die Mpumalanga Rugby-unie.

Die Premier liga kry aanstaande jaar ’n toevoeging tot die bestaande kompetisie in die vorm van ’n o.20 Premier liga tussen dieselfde klubs en dit sal aan die begin van die seisoen gespeel word.

Tydens die o.20 liga gaan die junior spelers die kans gegun word om in hul eie liga te speel en ook die afrigters van die o.20 Currie Beker groep te beindruk.

Die o.20 liga word voor die amptelike Puma ligas gespeel om dit vir klubs en spelers moontlik te maak om in die liga te kan speel voor die normale klub ligas begin. Die klub se bestuur vir 2018 is bevestig en sien as volg daaruit: Riaan Kotze (voorsitter), Johan Jansen van Vuuren (adjunk-voorsitter), Willie van der Merwe (president), Henk Prinsloo (afrigter), Christo Nelson (klubkaptein), Willie Oosthuizen (hoof afrigter/vise-voorsitter), Trevor Grundling, Renier Harmse en Jovan Botha (afrigters).

Die afrigters wat aangestel is het dus klub sowel as provinsiale ervaring en daar word tans hard gewerk deur die groep manne om die regte groep spelers te werf vir die seisoen wat voorlê.

Die hoof afrigter, Willie Oosthuizen (WR vlak 3 gekwalifiseerd), sal voortaan bygestaan word deur hierdie gedugte span en die bestuur het baie vertroue in die groep afrigters wat mekaar goed sal aanvul met die waardevolle ondervinding en kwalifikasies waaroor hulle gesamentlik beskik. Renier Harmse is ook tans besig om die gesogte WR vlak 3 kursus te voltooi.

Die klub het reeds die bevestiging van ’n gesonde kern van huidige en nuwe spelers wat die nuwe seisoen vir Ferro’s gaan speel.

Daar is egter veral met die oog op die o.20 liga steeds plek vir enige speler wat graag in die Premier Liga wil speel. Die bestuur nooi hiermee alle spelers uit te kom aansluit wanneer daar op 9 Januarie begin oefen word.

Ferro’s het ’n trotse rekord en gaan daarop voortbou in 2018.

Jong seuns wat pas skool verlaat het, word uitgenooi om deel te wees van ons sukses. Ons het hoë standaarde en dit kan duidelik gesien word in die hoeveelheid Ferro spelers wat jaarliks gekies word vir provinsiale spanne (Puma o.19, o.20, o.21, 7’s en amateurs).

Die Emalahleni Stadsraad bestuur en onderhou die stadion nou vir rugby en sokker en die klub het ’n nuwe ooreenkoms gesluit wat ons voortbestaan op die Puma Stadion bevestig en ondersteun.

Daar is reeds harde werk gedoen met die sny van die velde en die herstel van die ligte op die A-veld en die B-veld wat volgende aandag sal kry.

Spelers wat in die Premier liga wil speel word versoek om Willie Oosthuizen te kontak: 082 935 4153. o.20 spelers wat ook wil kragte meet in hierdie liga kan kontak maak met Henk Prinsloo: 061 602 5060. Alternatiewelik, skakel 072 833 0080.

Aan al ons ondersteuners en die hele gemeenskap van eMalahleni, wens ons ’n Geseëende Kersfees en ’n wonderlike Nuwe Jaar toe.

*Besondere dank aan Shumba Mining, Misty Creek en Smokey Ridge Spur, Khaya Bricks & Sand, Earthmoving Motor & Tractor Clinic, die Stadsraad van Emalahleni en al die ander borge.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button