GalleriesLocal sportSportSports galleries

Shumba Ferro’s kraai koning teen Sasol

Hiermee kwalifiseer Shumba Ferro's regstreeks vir die Mpumalanga semifinaal vir die Premier Liga wat op 6 Augustus op die Ball Park plaasvind.

Die Shumba Ferro’s het verlede Saterdag vir die tweede keer hierdie seisoen kragte gemeet met Sasol.
Die eerste ontmoeting was in Secunda waar die trots van die Ferro’s rugby ongelukkig die knie moes buig. Sedertdien het dinge egter verander en Shumba Ferro’s het hul laaste drie wedstryde teen Witrivier, Nelspruit en Middelburg met reuse tellings gewen en altesaam 20 drieë gedruk teenoor die vier van hul opponente.

Op die Ball Park Saterdag het albei spanne van die begin af hul stemme dik gemaak en aanvallers van beide kante het in rotsvaste verdediging vas gehardloop. Uiteindelik was daar ‘n deurbraak vir Sasol na ‘n taktiese oortreding deur die tuisspan en Jeandre Kleynhans tref die kol om Sasol die voortou te laat neem.

Kort hierna gebeur dit weer en Kleynhans maak weer so. Enkele minute later onderskep Sasol teen die verloop van die spel en druk die eerste drie van die wedstryd wat ook deur Kleynhans verdoel word.

Met twintig minute verstreke en na nog ‘n strafskop was die telling 16-0 in die guns van Sasol en Ferro’s ondersteuners het ongemaklik op hul sitplekke begin rondskuif. Maar net soos in die vorige wedstryd teen Middelburg, het die wedstrydplan van Shumba Ferro’s begin werk en minute later rond senter Tommie Collen ‘n mooi beweging van die regter vleuel Mzwakhe Fransman af, met ‘n pragtige drie onder die pale. Jannie van der Merwe verdoel en hierna kon ‘n mens voel hoe die toeskouers begin “lewe”.

In die vyftien minute hierna het albei spanne nog twee keer agter die doellyn gaan kuier om die rustyd telling op 30-21 tot stand te bring in die guns van die besoekers.
Na rustyd het die stryd voortgewoed en elke span druk een keer ‘n drie voordat dinge skielik vir Shumba Ferro’s begin skeefloop. Teen die verloop van die spel was dit Sasol wat die punte opgestapel het en kort voor lank was die telling 48-28 in hulle guns.

Hulle het egter nie rekening gehou met die fiksheid en deursettingsvermoë van Shumba Ferro’s nie en in die laaste vyftien minute was dit die tuisspan wat balbesit oorheers het en met voor en agterspelers wat uitstekend gekombineer het, kon Sasol net eenvoudig nie al die gate toestop nie. In hierdie gespanne laaste paar minute druk Ferro’s nog drie drieë en Jannie van der Merwe sit sy foutlose skop vertoning voort om Shumba Ferro’s met 49 punte teenoor 48 te laat seëvier.

Hiermee kwalifiseer Shumba Ferro’s regstreeks vir die Mpumalanga semifinaal vir die Premier Liga wat op 6 Augustus op die Ball Park plaasvind.

Jean-Di Oosthuizen en Jovan Botha is onderskeidelik aangewys as voor-en agterspelers van die wedstryd.

Punte vir Ferro’s is soos volg aangeteken:
Driee (7): Mzwakhe Fransman, Tommie Collen, Christiaan Els, Izan Green(2), Ruan van der Colff en Jean-Di Oosthuizen.
Doelskoppe: Jannie van der Merwe(6) en Pieter Clarence.

Back to top button