Local sportSport

Shumba Ferro’s sukkel in Kathu

Shumba Ferro’s het die afgelope naweek na Kathu gereis vir hul Gemeenskapsbeker bepaling teen Sishen.

Na die ongeveer 12-ure op die pad was die spelers tam met lae konsentrasievlakke. Sishen spring met ’n spoed weg en loop teen halftyd reeds 20-15 voor na hulle drie drieë druk. Ferro’s druk self twee drieë (MC Botes en Tommy Collen) met Dewald Pieters wat ’n strafdoel en ’n doelskop byvoeg.

Met die draaislag en teen die wind het Ferro’s gesukkel om hul ritme in die wedstryd te vind en Sishen kans gegee om verder voor te loop na nog twee drieë.

Wat die Kathu manne egter nie mee rekening gehou het nie was Ferro’s se fiksheid. Die laaste 20 minute was daar net een span op die veld en druk Ferro’s nog twee drieë (MC Botes en Henson Ngozo) om twee bonuspunte te verdien in ’n baie moeilike wedstryd en ’n finale telling van 29-35.

Ferro’s se voorspelers was weereens hul teenstanders se tier en op stadiums het die Sishen-manne letterlik rondgelê op die veld na nog ’n stormloop deur die manne van eMalahleni.

Jackie Smit (Bolt & Nut Speler van die Wedstryd) was onstuitbaar by die afbreekpunte en hy is goed ondersteun deur Izan Green, Jeandi Oosthuysen, Willie Muller en Lesley Orton.

Punte is aangeteken deur: MC Botes (2), Tommy Collen en Henson Ngozo en Dewald Pieters (drie doelskoppe en ’n strafskop).
Ferro’s wat in die vorige twee wedstryde slegs 11 strafskoppe in totaal afgestaan het moes Saterdag met die skril fluitjie van die skeidsregter Nico Schmall sien hoe hulle in die wedstryd 19 strafskoppe afstaan.

SARU sal definitief moet kyk na die skeidsregters wat ook op dié vlak wedstryde hanteer. Dit is onaanvaarbaar om te sien hoe daar ingeskrum word deur voorrye, opgestaan word in die skrums en onwettige hoogvatte uitgevoer word – en ongestraf gelaat word.

Ferro’s reis die naweek na Hamiltons, die oudste klub in die land, en gaan hard werk vir ’n moontlike kwalifisering na die Top 8  Paasnaweek-toernooi. Met ’n bonuspunt wen is dit feitlik ’n uitgemaakte saak dat eMalahleni se trots maar hul plek na George kan bespreek.

Die Lorent Ferro’s XV en Ferro’s 3 speel die naweek tuis teen Groblersdal wat vanjaar terug is in die Puma klub liga. Die wedstryde begin om 15:00. Daar sal weer baie eet- en drinkgoed beskikbaar wees by die klubhuis.

Back to top button