Local newsNews

Blancheville se ander geveerde inwoners

Weke na die kaalwang-valk geïdentifiseer is as die ‘roofvoël van Blancheville’, het daar nog ’n onopgeloste raaisel, ’n regte kopkrapper, opgeduik, na ’n inwoner beweer hy het aasvoëls in die lug bo sy huis gesien sirkel.

“Daar was omtrent 10 of 15 wat hoog in die lug bly draai het,” het mnr. Pieter Joubert vertel op Maandag 24 Maart kort na hy die voëls gewaar het. Joubert, wat telling hou van die verskeie voëls in sy omgewing, het nog nooit vantevore só iets naby sy woning gesien nie.

Mnr. Johan Combrink, van Witbank Natuurreservaat, het ook gesê dat daar nog nooit ’n geval was waar aasvoëls opgemerk is in die omgewing nie en dat die voëls ook nie by die natuurreservaat voorkom nie.

Nkangala-streek ekoloog, mnr. Jannie Coetzee, het ook bevestig en gesê dat dit onwaarskynlik is dat so ’n groot aasvoël kolonie hulself in dié omgewing sal tuismaak. “Ek is al van 1992 af hier en het nog nooit aasvoëls opgemerk nie,” het Coetzee gesê (hy het ook die voëls wat naby Loskop bly in ag geneem).

“Daar is ’n moontlikheid dat die voëls wat gewaar is nie aasvoëls was nie, maar miskien sprinkaanvoëls.”
Coetzee het vertel dat die sprinkaanvoël, familie van die ooievaar, dieselfde gedrag toon soos die van die aasvoël en in sirkels in die lug sal draai.

In die geval van aasvoëls, is die gedrag kenmerkend wanneer hul prooi of dan die karkas van ’n dooie dier gewaar.
Daar is ook ’n ander mening of verklaring vir die gedrag van voëls wat so in sirkels in die lug sweef…

Kenners meen dat voëls gebruikmaak van die ‘thermal lift’ of dan hitte wat styg van die grond. Hulle sal in sirkels vlieg in hierdie tipe hitte-kolom (thermal) wat deur die natuur voorsien word.

*Indien inwoners ’n foto van die voëls kan kry of meer inligting het, deel dit op die WITBANK NUUS facebook-blad of lewer kommentaar in die gepaste blokkie onder die artiekel.

Back to top button