Local newsNews

Kabod huis sluit finaal deure

Die klank van ’n klein radio is die enigste geluid wat die oorverdowende stilte breek, wat dreig om jou te verswelg as jy in die huis instap

Daar is nou nie meer ’n heenkome vir weggooi-babas in eMalahleni nie. Kabod Huis se deure het toegemaak.

Die klank van ’n klein radio is die enigste geluid wat die oorverdowende stilte breek, wat dreig om jou te verswelg as jy in die huis instap.

Opgewonde baba geluidjies en peuters se lag word nie meer hier gehoor nie. Al die babas is Donderdag 2 Maart weggeneem na ander huis wat onder die geregistreerde welsynsorganisasie, uMephi, val.

Terwyl die huismoeder, me. Antoinette Greyling die pienk en blou kombersies pak, loop haar trane vrylik.

“Ek is stukkend. Al my kinders is skielik weggevat. Daar was nie tyd om voor te berei of te groet nie.”


Me. Antoinette Greyling se hart breek terwyl sy al die babagoed in Kabod Huis pak.

Pastoor Johan Steyn van die AGS Neo Doxa Kerk wat die baba-huis die afgelope agt jaar lank onderhou het, het gesê Kabod Huis moet ’n gemeenskapsprojek word. In lig van die huidige ekonomiese klimaat kan die kerk die baba-huis nie meer op hul eie dra nie.

Antoinette se pleidooi vir finansiële hulp het geen resultate opgelewer nie.

“Baie mense het die berig in die koerant en op sosiale media gelees en onderneem om te help, maar tot dusver het geen besigheid of individu aan boord gekom nie,” het sy gesê.

Sy stort ’n traan vir elkeen van die 55 babatjies wat reeds deur Kabod Huis se deure gekom het. Dan bid sy vir die babatjies wat nou nie die liefde van Kabod Huis ooit sal ervaar nie.

“Ek kan nie vrede maak dat die deure finaal op 31 Maart gesluit gaan word nie. Ek het gebid, gesmeek en tog weet ek God het ’n groter plan…”

Al die meubels, speelgoed, klere en kos in Kabod Huis sal tussen die ander baba-huise onder uMephi se vaandel uitgedeel word.

LEES OOK:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/45029/generator-stolen-from-kabod-house/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/41950/kabod-house-and-huis-betsie-louw-receive-generous-contributions/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button