CrimeNewsUpdate

Nkosi se skrikbewind duur voort

Vir die paartjie wat twee weke terug by Pienaarsdam aangeval is, is dit net die begin van die nagmerrie.

Een van die verdagtes in die wrede aanval is uitgeken as Mduduzi Nkosi. Nkosi het die eerste keer vir hoofopskrifte gesorg toe hy in hegtenis geneem is  op ’n moordklag.

Mduduzi word daarvan verdink dat hy mnr. Johan Venter op 22 Januarie 2010 tydens ’n plaasaanval doodgeskiet het.
“My ouers het kort na 01:20 die oggend wakker geword toe die rowers reeds in hul huis was. My pa het met die een gestoei en die ander een was by my ma, dié het haar handsak geëis. Tussen die gestoeiery deur is my pa doodgeskiet en my ma gewond,” het Jaco Venter vroeër die week vertel. Hulle plaas, Keerom, is op die Stofbergpad.

Jaco het gesê Nkosi is kort na die aanval gearresteer en dis toe dit aan die lig kom dat hy in 2009 ontsnap het terwyl hy verhoorafwagtend was op roofsake.

Voor die verhoor van die Venter-moord kon voortgaan het hy uit die hofselle uit ontsnap.
Buiten die moordsaak word hy ook positief verbind met ander sake waaronder menseroof, verkragting en poging tot moord, terwyl hy op vrye voet was.

“Dit is definitief hy. Dis hy wat Deon met die hamer geslaan het,” het me. Rina Fourie (46) histeries gegil toe Nkosi se foto vir haar gewys is.

Fourie en haar verloofde, mnr. Deon van der Merwe (48) is op 7 Maart by die boshut by Pienaarsdam, Middelburg deur ses rowers oorval en herhaaldelik aangerand.

Een van die rowers, wat die paartjie met ’n panga aangeval het, is die rede hoekom Fourie nie snags slaap nie.
“Hy het in my oë gekyk en gesê hy kom terug. Die Here weet, ek sien hom oral,” het Fourie huilend gesê.

Fourie het gesê vier van die ses rowers het balaklawas gedra, maar twee het niks oor hul gesigte gehad nie.
Sy het die een, wat Van der Merwe vier keer met ’n hamer oor die kop geslaan het, beskryf met ’n kenmerkende klein snorretjie. Die een wat haar met die panga gemartel het, onthou sy as ‘n lang man met smal wange en ‘n bokbaardjie.

Intussen gaan die polisie voort met hul ondersoek. As jy enige inligting oor die verdagtes het skakel die ondersoekbeamptes a.o Makwena of a.o Tobias Mogadime: 079 878 7941.

Fourie het vroeër die week gesê die dokters is bekommerd oor haar wysvinger wat septies geraak het. Haar wysvinger is met die panga oopgekloof. Sy moet die wond daagliks skoonmaak en gaan die dokter weer op 25 Maart sien waarna ’n besluit oor die behandeling daarvan geneem gaan word. Haar steke is Donderdag 13 Maart uitgehaal.

Van der Merwe kom met krukke oor die weg. Die steke op sy been waar hy met die panga gekap is, is Maandag 17 Maart verwyder. Hy sal in die komende week weer begin werk.

Back to top button