CrimeNews

Twee met pangas aangeval

Net twee selfone en ’n bietjie kontant - dit is wat swaarder geweeg het as twee lewens.

Twee oud-inwoners van eMalahleni is oor die naweek by Pienaarsdam wreed met pangas aangeval en al wat die rowers gebuit het was hul twee selfone en kontant.

Me. Katriena Fourie (46) en haar verloofde, mnr. Deon van der Merwe (48) het skaars ’n week by hul nuwe woonplekkie in die boskamp by die gewilde ontspanningsoord gebly toe die aanval Vrydag 7 Maart omstreeks 01:00 plaasgevind het.

Fourie het gesê hulle het wakker geword met ’n snaakse reuk soos drade wat brand en het gesukkel om asem te haal. Toe hulle begin opgooi het Fourie besef hulle moet lug kry en het die een deur wat na buite lei oopgemaak.

“Die deur was skaars oop toe storm ses mans die huis in. Ek het gegil en met dié was Deon langs my. Hy het probeer om die mans uit die huis uit te kry,” het Fourie skaars hoorbaar vertel.

Die gebeure wat daarna gevolg het klink soos ’n greep uit ’n fliek.
“Die rowers het Deon ongenadig met ’n panga gekap. Een van hulle het hom voor op sy kop met ’n vier-pond hamer geslaan. Ek het gesien hoe hy bewusteloos inmekaarsak.”

Fourie het opgehou praat en haar emosies onder beheer probeer kry.
Met trane wat teen haar wange afloop het sy verduidelik hoe sy vir Van der Merwe se lewe gepleit en gesmeek het. Sy het gesê die rowers het aangehou om die bewustelose man oor die kop te slaan.

Toe die rowers besef Van der Merwe reageer nie meer nie, het hulle die aanval op Fourie toegespits en haar oor die bors, arms, hand, maag en oor haar blad met die panga gekap.

Hulle het aangehou om haar te slaan en skop en toe die een aan sy broek begin vroetel het die gedagte van moontlike verkragting alles in haar tot stilstand gebring.

“Ek was te bang om asem te haal en het woordeloos gebid. Dieselfde tyd het ek gesmeek dat hulle ons moet uitlos. Ek het gesê my beursie was aan my kant van die bed. Die rower het my aan my hare gegryp in die hoek neergegooi en beveel om die beursie te soek. Genadiglik het ek my beursie gekry en vir hom gegee. Hy het dit soos ’n dier opgeskeur en die kontant daarin gevat.”

Nadat die rower die leë beursie eenkant toe gegooi het, het hy haar weer met die panga gekap en geskree, “Stay where you are!”
Die rowers het die huis van buite gesluit en weggehardloop.

Van der Merwe het intussen bygekom en hulle het ’n derde selfoon in die hande gekry wat die rowers misgekyk het.
Hulle het aanvanklik gesukkel om die polisie in Middelburg in die hande te kry en het ’n vriend geskakel. Die vriend het op sy beurt mnr. Gerrie Gerrits, eienaar van Pienaarsdam geskakel. Hy en sy twee skoonseuns het die huis waar die aanval plaasgevind het se deur oopgebreek en die paartjie te hulp gesnel.

Me. Venessa van Niekerk van Pienaarsdam het die polisie geskakel en gesê hulle verdien ’n pluimpie want hulle en die nooddienste was kort daarna op die toneel.

Sy het gesê die huis wat  Fourie en Van der Merwe by hulle gehuur het, staan eenkant in die middel van die wildskamp. Van der Merwe het by hulle gehuur omdat dit vir hom nader aan die werk is. Hy werk as ’n kontrakteur vir Mountain Rock op Black Wattle Myn.

“Die rowers het die wildsheining wat sowat 30m van die huis af is, geknip. Die huis is toegespan met ’n draad en het een hek. Ek is nie seker of die hek gesluit was nie,” het Van Niekerk gesê.

Die ondersoekbeampte a.o Boss Makwena van Middelburg SAPD het gesê ten spyte van die deurdringende reën  kon hulle die rowers se spoor tot amper in die plakkerskamp naby Pienaarsdam volg.

As enige persoon inligting het wat die polisie kan help in die soektog na die rowers kan hulle a.o Makwena of a.o Tobias Mogadime skakel: 079 878 7941.

*Van der Merwe is Maandag 10 Maart uit die hospitaal ontslaan en Fourie Dinsdag 11 Maart. Sy moet weer Vrydag 14 Maart by die hospitaal wees omdat die ortopeed weer na haar duim wil kyk wat baie lelik tydens die aanval oopgekloof is.

Me. Marie Fourie het gesê sy is dankbaar dat haar ma en die se verloofde nog lewe, “Ek sê elke dag dankie dit kon soveel erger gewees het. Ek kan mamma vandag op die voorkop soen en sê ek is lief vir jou, dis al wat tel.”

Marie bedank graag die volgende persone wat hulle die afgelope week bygestaan het: mnr. Marius en me. Chané Botha, mnr. Attie Henning, mnr. Cois van Zyl van Mountain Rock, die bestuur van Pienaarsdam en die Boere Krisis Aksie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button