EntertainmentLifestyle

Nolene is die nuwe gesig vir Kansa

Sy het die besluit geneem nadat sy haar ouma en tannie aan kanker verloor het. Nolene het besef dat daar ‘n groot nood is vir kankerlyers.

Nolene Verwey (18) het die begin van die jaar besluit om ‘n Kanker Ambassadeur te word. Sy het die besluit geneem nadat sy haar ouma en tannie aan kanker verloor het. Nolene het besef dat daar ‘n groot nood is vir kankerlyers.
Op 10 September is die ambisieuse jong dame gekroon as “Face of Cansa” vir die eerste keer in Kansa se geskiedenis.

“Ons moes roosbome verkoop ten bate van Kansa en met die projek het ek ‘n totaal van 80 roosbome verkoop,” het Nolene gesê.

“In my jaar van ambassadeur wees moes ek gemeenskapswerk doen. Ek het alreeds ‘n paar projekte gedoen naamlik: die opruiming van Klipfonteindam, ek het die Sonneblom Huis vir Gestremdes besoek, ‘n paar gesinne gehelp met kospakkies en gehelp om ‘n nuwe blyplekkie op te sit vir ‘n gesin. Ek het ‘n Down-sindroom dogtertjie besoek en ook ‘n pleegkind gehelp om haar verjaarsdag te geniet met ‘n heerlike koek,” het sy met trots gesê.

Sy het ook ‘n musiekfees bygewoon en weer ‘n groot sukses daarvan gemaak om broodnodige fondse in te samel vir Kansa, maar dit is nie al nie,

“My laaste groot projek vir die jaar was ‘Kersfees vir Kansa’ wat plaasgevind het op 3 Desember waar ons geld ingesamel het ten bate van Kansa en op hierdie dag het ek in samewerking met PILOSA en Charmaine van der Westhuizen hande gevat en kon ons aan 10 gesinne kos voorsien en het ons Kersgeskenkies vir die minderbevoorregte kinders uitgedeel .” het sy gesê.

Verder is sy baie hard aan die werk met die ‘Relay For Life’ vir 2017.

CD520
Nolene Verwey

Gaan gerus na haar Facebook-blad “Face Of Cansa / Cancer Ambassador” en volg haar om te sien met watter projekte sy besig is en waar jy sal kan betrokke raak.

“As die gekroonde gesig vir Kansa is dit my missie en ambisie om die gemeenskap by te staan en te help waar ek kan. Dit is vir my ‘n groot eer en ‘n voorreg om mense se lewens te kan aanraak en ‘n verskil te kan maak, veral daar waar mense begin dink daar is nie meer hoop of ‘n uitweg nie. Ek sal dit nie kan doen sonder my ondersteuners en borge nie. Saam kan ons ‘n verskil maak en ‘n nalatenskap agterlaat vir die volgende persoon wat gekroon sal word in 2017” het sy gesê.

Niks sou moontlik gewees het sonder al die mense wat haar ondersteun het deur die loop van die jaar nie.

“Ek wil afsluit deur my Hemelse Vader alle eer te gee. Sonder Hom is ek tot niks in staat nie. Dan wil ek my ouers bedank vir al hul ondersteuning en bystand en dan Stefan, my vriend wat dit moontlik maak om my by alles uit te kry,” het sy ten slotte gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button