CrimeNews

Blou ligte flikker steeds op die snelweë

“Natuurlik dink ’n mens dat dit ’n verkeersbeampte met ’n ongemerkte voertuig is. Veral as hulle jou bestuurslisensie vra na hulle jou aftrek,”

Kapers met blou ligte op karre se dakke is steeds besig om hulself as verkeersbeamptes of polisie voor te doen om sodoende niksvermoedende motoriste van hul karre te beroof.

Die booswigte begin nou ook polisie-uniforms dra en ry met ongemerkte wit voertuie.
Vrydag, 18 November, was trokdrywers, mnr. Thapelo Munyai die soveelste slagoffer van die Bloulig-bende.

“Ek en my kollega was op die N4-snelweg se Mandelastraat-afrit toe ’n wit voertuig met blou ligte vir my wys om af te trek. Die twee mans het uniforms gedra en gevra vir my bestuurslisensie en die kwotasie wat uitgereik is vir die goedere wat ons vervoer,” het Munyai gesê.

Volgens die kollega wat saam Munyai gery het, het die ‘polisielede’ aanhoudend gevra wat hul vervoer.

“Hoe meer ons vir die mans gesê het dat daar net lekkers en skryfbehoeftes in die trok was, hoe meer het hulle aangehou dat ons die trok moet oopsluit.”

Net toe die twee weerlose slagoffers uit die trok uitklim het een van die verdagtes ’n vuurwapen op die trokdrywer gerig en hul albei aangeraai om agter in die trok in te klim.

“Hulle het ons eers baie hardhandig behandel en al ons selfone en waardevolle besittings geneem voor hul weggetrek het met die trok,” het Munyai vertel.

Na enkele minute het die kapers die twee slagoffers langs die snelweg in die donker afgelaai en weggery.
’n Ander trokdrywer is op 9 November ook deur die sogenaamde ‘polisiebeamptes’ op die N4-snelweg gestop.

“Natuurlik dink ’n mens dat dit ’n verkeersbeampte met ’n ongemerkte voertuig is. Veral as hulle jou bestuurslisensie vra na hulle jou aftrek,” het mnr. Augusto Jamo angstig vertel van die aand toe hy deur vyf booswigte oorval is.

Na een van die verdagtes sy lisensie gevra het, het die verdagte se hele houding verander toe hy ’n vuurwapen in Jamo se gesig gedruk het.

“Ek het nog gedink dat daar fout is en dat daar dalk ’n uitstaande boete op die trok se registrasie is. Maar toe ek uit die kant van my oog sien hoe vier ander onbekende mans my oorval vanaf die passasierskant toe snap ek wat eintlik gebeur,” het hy gesê.

Enkele ure na die voorval met Jamo is nog ’n trokdrywer op die N12 gekaap.

Hy was op pad na Johannesburg toe ’n wit voertuig met ’n blou lig hom gewys het om tot stop.

“Ek kan nie veel onthou van die voorval nie, want toe ek die man voor my sien met ’n vuurwapen in sy hand toe slaan ek heeltemal ‘blank’,” het die drywer van die trok gesê.

Woordvoerder van Witbank Polisiestasie, kapt. Eddie Hall het voorheen al gesê:

“motoriste wat gebruik maak van die snelweë moet altyd paraat wees. Veral met hierdie ongemerkte voertuie met blou ligte op. As jy enigsins twyfel of dit regte polisie- of verkeersbeamptes is, moenie stop nie, ry eerder na die naaste polisiestasie”.

LEES OOK:
Moet nie laat blouligte jou flous nie
Blue lights don’t always mean police

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button