Local sportSport

Beslis nie net ’n mooi gesig nie

Onder die klere en agter die gesig, sal jy verbaas staan wanneer jy vir Sonia van Heerden in ’n bikini sien. Dit is met hierdie lyf wat sy beoordelaars gaan beïndruk in Poland in November.

Onder die klere en agter die gesig, sal jy verbaas staan wanneer jy vir Sonia van Heerden in ’n bikini sien.
Dit is met hierdie lyf wat sy beoordelaars gaan beïndruk in Poland in November. Vanaf 11 – 14 November gaan sy hier ’n verhoog aandurf saam met die ander kampioene toe sy outomaties gekwalifiseer het vir die wêreldkampioenskappe nadat sy vroeër vanjaar Arnold Classic gewen het in Sandton.

Op 2 – 4 September het sy in Durban aan hierdie kompetisie deelgeneem en het gewen in haar kategorie, die liggaamsfiksheid, 168cm en meer. Daarna, was al die kategorie wenners op die verhoog gesit, en hier het Sonia eerste plek verwerf. Sy het haar Protea klere verwerf hier in Suid-Afrika, maar vertel dat sy uitsien na die verhoog in Poland.

Mc687-1rs
Sonia van Heerden tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskappe op 2 – 4 September waar sy gekwalifiseer het vir die Wêreldkampioenskappe in Poland in November.

Om met sò lyf te pronk is natuurlik harde werk en verskriklik baie self dissipline, het Sonia ook vertel. Maar hoe lank werk mens dan so hard hieraan?

“Ek doen dit nou vir 17 maande. Ek het na my kinders se geboorte besluit dit is tyd om my lyf terug te kry, aangesien ek my hele lewe al in die gimnasium deurbring. My pa was ’n liggaambouer en ek het nog altyd geoefen. My grootste motivering was om weer my vorige lyf terug te kry en my man en kinders is beslis my grootste aanhangers,” het Sonia met trots vertel.

Mc687-2 (deep edge)
Sonia van Heerden tydens oefening.

Sy het ook vertel dat Wimpie, haar man, veel eerder die afrigting geniet, maar hy is ook gaande oor hierdie sport en ondersteun haar in haar drome.

“Ek en hy eet gesond, die kinders natuurlik iets anders, maar ek wil graag hierdie liefde by hulle ook kweek. Dit is immers hul keuses, maar ek sal daarvan hou as hulle ook gesond leef en eet. Wimpie ondersteun my 100% en motiveer my om aan te gaan wanneer die moed laag loop. Dit maak die oefen lekker, aangesien ek dit saam my man kan doen. Ek oefen net ’n uur elke dag, van 16:00 tot 17:00. Daarna moet ek ma en vrou wees, en my huishoudelike pligte nakom,” het Sonia ook vertel.

Sy het bygelas dat mens gemotiveer word in die gimnasium en dat die vriende en familie wat jy daar maak, beslis ’n bydrae het tot die sukses.

“Ek weet nie of ek die persoonlike opleiding sal doen nie. Die uitdaging is nie vir my groot genoeg nie. Dit is vir my die mooiste wanneer my kinders ook voor die spieël staan en hul ‘spiere’ wys, en staan soos mamma op die verhoog staan. Hulle word ook groot met dit soos ek. Ek onthou hoe ek altyd na die tannies in die tydskrifte gekyk het, van klein dogtertjie af. Ek het altyd gedroom om dit te doen en het nooit iemand gehad om my daardie ekstra hupstoot te gee om hierdie drome te bewaarheid nie. My trouman het my werklik gehelp om hierdie drome uit te leef en hy is my steunpilaar deur al my sukses. Ek sou hierdie nooit sonder hom kon doen nie. In hierdie ‘game’ kan mens nie so iets alleen bereik nie, dit moet beslis ’n spanpoging wees,” het Sonia ook gesê.

Sy het verder vertel van die weke se voorbereiding wat ingaan voor die paar minute op die verhoog.

“Die laaste twee weke is die ergste, dit is die uitputtingstadium waar jy jou lyf uitput van alles. Jy eet ses keer ’n dag vis en spruitkool (broccoli) en drink ses liter water per dag. Jy leer dus jou liggaam om ontslae te raak van die oortollige water. Hoe meer water jou lyf verloor, hoe meer verloor jou lyf self water. Vier dae voor die vertoning is koolhidrate jou stapelvoedsel om die volheid terug te sit in jou spiere. Hiermee gaan ook ses liter water ’n dag,” het Sonia vertel.

Sy het gesê dat jy jouself moet positief hou gedurende jou voorbereiding en dat jou ingesteldheid reg moet wees.

“Die dag voor die tyd moet jy probeer om baie te lê en te rus, en jy mag niks drink vanaf 13:00 daardie dag nie. Hiermee gooi jou lyf steeds water af, aangesien jy jou lyf geleer het die vorige twee weke. Voor ek op die verhoog gaan, eet ek ’n hamburger en ’n bar-one en ek maak net my lippe nat met gliserienwater,” was haar verdere woorde.

Sonia het ook gesê dat twee dae na sy op verhoog was, vat sy af en eet wat sy wil. Daarna is sy weer terug op die rooivleis, hoender, vis, spruitkool en rys.

“Mens moet poseerfiks word ’n week voor die tyd aangesien elke spier in jou lyf die hele tyd styf moet wees, anders kritiseer die beoordelaars jou. Ek moet ook werk aan my verhoogpersoonlikheid, maar met tyd raak mens dit gewoond. Jy moet glimlag en seker maak elke spier bly styf,” het Sonia gesê.

Sy het bygevoeg dat dit frustrerend is om nie gimnasium toe te kan gaan nie, indien een dag dit nie toelaat nie. Haar lyf moet ook kans kry om te rus na so kompetisie en dat sy dit nie sommer sal prysgee nie.

Oor haar toekoms het sy nie veel uitgelap nie, maar haar eie gimnasium is beslis in die pyplyn. Wat wel verseker is, is dat sy doen waar haar hart lê en soveel bereik soos sy nog altyd van gedroom het.

*Hendryette Marais het ook aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelgeneem en het vierde geëindig in die liggaamsbou kategorie, maar het nie deurgedring tot die wêreldkampioenskappe nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button