BlogsOpinion

Wie se gat is die grootste?

Dié vraag kan baie debat ontlok. Maar ek het besluit om vir nou eers op slaggate te konsentreer voor ek myself inlaat oor wie se gat die grootste is of oor wie sy naam gat maak in Emmawillielênie.

Slaggate is besig om ons pragtige stadjie te verorber.

Kan julle nog die Pacman-speletjie onthou? Iemand miljoene ligjare weg is besig om Pacman te speel met Emmawillielênie.
Selfs slaggat 119 voor ons pandokkie is ingesluk. Dié slaggat is nou ’n identiteitlose gat in die middel van nêrens en êrens, wat by die dag groei.

Dink nou net hoe vinnig ryk iemand gaan word as hulle die innoverende manier uitdink om jou deur middel van jou selfoon te waarsku teen slaggate, nes die Globale Posisioneringstelsels (GPS) ons waarsku teen spoedkameras. Ons selfoonbatterye gaan dit ongelukkig nie hou nie, die arme kontrêpsies gaan oortyd insit.

Iemand het voorgestel ons gaan besoek die komitee wat verantwoordelik is vir die verandering van dorp- en stadname en stel voor dat ons na ‘Dodge City’ herdoop word. ‘Dodge’ ’n slaggat het al tweede natuur by plaaslike motoriste geword.

Een van die dae sien ek al ’n nuwe generasie van waaghalse ontpop, almal uit Emmawillielênie uit, want hier moet jy jou bestuur ken.

So sit die Engelsman met sy glasie ‘eish’ in die hand en reflekteer oor die dag se bestuursvernuf.
“In South Africa we used to drive on the left of the road, now we drive on what is left of the road,” stuur hy aan sy sosiale media vriende oorsee.

Dis toe een van sy vriende die volgende terugstuur dat die harde werklikheid my sommer in die gesig klap. Hy het geskryf, “Remember it is easy to replace a tyre or two, but you cannot replace a human life.”

Op ’n baie ernstige noot, daar word met menselewens gespeel. Hierdie is nie ’n dobbelspel nie, moet iemand met hul lewe boet alvorens daar na die slaggat-probleem in die stad gekyk gaan word.

Back to top button