CrimeNews

Rowers vlug toe vrou skree

Die gemeenskap en bestuurders word weereens gewaarsku om paraat te wees en te waak teen rowers en diewe.

Die gemeenskap en bestuurders word weereens gewaarsku om paraat te wees en te waak teen rowers en diewe.
Met meer en meer gevalle van roof en diefstal wat aangemeld word is die SAPD se fokus gemik op die (SBD) Sentrale Besigheidsdistrik.

Op Vrydag 27 Mei het nog ’n inwoner van eMalahleni onder deur rowers geloop in Lewisstraat.

“Ek het net uit ’n winkel gekom en na my voertuig toe gestap toe ek twee mans gewaar wat my benader,” het me. Phillis Mabena gesê.

Sy het verder gesê dat dit nie vir haar ongewoon was dat die onversorgde mans haar benader nie, aangesien die hele dorp wemel met bedelaars.

“Dis toe ek my kar oopsluit dat ek sien die mans is hier vir ’n ander rede. Die een man het ’n mes uitgeruk en vir my gesê ek moet my besittings oorgee aan hom terwyl die ander een toegang verkry het tot my kar,” het Mabena ook gesê.

Die twee rowers het dit nie reggekry om weg te kom met haar voertuig nie, maar het op vlug geslaan met al haar besittings wat in haar handsak was.

“Jy baklei nie in so sitsuasie nie, jy gee net oor. Ek weet steeds nie hoekom ek so braaf was om te begin skree nie, maar dit het die twee mans laat skrik en weghardloop sonder om my enige leed aan te doen,” het Mabena verder vertel.

Volgens Mabena was die twee rowers skoonveld in net ’n oogwink toe sy ’n karwag genader het vir hulp.
Daar is nog geen arrestasies gemaak nie, maar die polisie is besig om die saak verder te ondersoek.

LESS OOK:
Keeping calm in the presence of armed robbers
Verdagte duik deur venster om vrou te roof

Back to top button