Local newsNews

Luané terug skool toe na hond haar byt

“Dit was nie Gino se skuld nie, ek was net in sy pad.”

Dit is asof ’n sluier die negejarige Luané Lottering se glimlag verskuil wanneer sy weer die oomblik beleef toe haar speelmaat die Deense hond, Gino haar in haar gesiggie gebyt het.

Gino, die tweejarige Deense hond het Luané Lottering in die gesig gebyt.
Gino, die tweejarige Deense hond het Luané Lottering in die gesig gebyt.

Die letsels vertel van die pyn en ongemak wat sy moet verduur nadat Gino haar op 21 Desember gebyt het. Tog hou sy vol dat Gino haar nie opsetlik gebyt het nie.

Luané was besig om duiwe in hul tuin te voer toe Gino vermoedelik een van die duiwe wou vang en haar in die gesig hap.
“Dit het baie vinnig gebeur en dit was baie seer,” het ­Luané gesê.

Luané se pa, mnr. Stanley Wolmarans was in die agterplaas besig toe hy sy dogter hoor skree. Me. Benieta Lottering, Luané se ma het net vir ’n oomblik in die huis ingegaan toe sy eers ’n slag en toe haar dogter hoor skree.

Die bebloede Luané is na Life Kosmos Hospitaal gejaag waar sy dadelik per ambulans na Wilgers Hospitaal oorgeplaas is.
“Luané se wangetjie was heeltemal los. Sy het my later vertel sy kon voel hoe dit op en af flap. Die ambulanspersoneel was ’n antwoord op ’n gebed. Hulle was so geduldig en uiters professioneel,” het ­Benieta gesê.

Steve Hofmeyr was een van die besoekers wat die negejarige Luané Lottering in die hospitaal verras het.
Steve Hofmeyr was een van die besoekers wat die negejarige Luané Lottering in die hospitaal verras het.

“Dit was asof ons in die middel van ’n rolprent vasgevang was. Met ons aankoms by die hospitaal het die dokters en personeel reeds vir ons by die deur gewag.”

Dr. Gysie Annandale van Wilgers Hospitaal het Luané se wangetjie met ongeveer 300 steke geheg.

Sy was drie ure lank in teater.

Oor die hospitaal gesels Luané nie baie nie, maar wanneer sy vertel dat Steve Hofmeyr by haar kom kuier het, kry jy haar nie stil nie.

Steve het van Luané gehoor en haar op 30 Desember besoek.

“Steve is oulik,” het sy met ’n glinstering in haar oog gesê terwyl sy spog met die CD’s en DVD’s wat hy vir haar gebring het.
“Ons het Luané ook by ’n berader gehad en sy is weer piekfyn,” het Benieta gesê.

Luané was in 2007 deur ’n Chinese keeshond (Chow) in die gesig gebyt en haar ouers het lank navorsing gedoen oor honderasse se temperamente en karaktereienskappe omdat hulle wou seker maak hulle koop nie ’n aggressiewe hond nie.

“Ek wou aanvanklik ’n Labrador kry, maar ’n vriendin het toe gesê ’n Deense hond is ’n beter opsie as jy klein kinders het.”
Hulle het twee gehad. Benieta het gesê beide die Deense honde is na die Dierebeskermingsvereniging geneem en huise is vir albei gekry. Sy het bygevoeg dis onwaarskynlik dat hulle weer ’n groot hond sal kry.

Luané is reeds volstoom besig met die skooljaar, sy is nou in Gr.4  by Laerskool Reynorif.

Check Also
Close
Back to top button