Local newsMunicipalNews

Gemeenskap teer en veer

Inwoners van eMalahleni is al moeg gekla oor die toestand van die stad se paaie

Inwoners van eMalahleni is al moeg gekla oor die toestand van die stad se paaie.

Verskeie gemeenskapsprojekte is die afgelope maande van stapel gestuur om paaie op eie onkoste te herstel maar intussen het dit aan die lig gekom dat verskeie ongebruikte sakke teer net rondlê op die erf van die Departement van Openbare Werke, Paaie en Vervoer.

“Ons betaal alle onkostes wat die herstel van slaggate aanbetref self,” het mnr. Wessel Brits, organiseerder van een so projek vertel.

Om met onkostes te help het mnr. Brits en mnr. Gerhard Smit glo die bestuurder van die Departement van Openbare Werke , Paaie en Vervoer gekontak met die hoop dat hy kan help.
Na die versoek het hy hulp aangebied maar foto’s versoek van die slaggate sodat daar werk gemaak kan word volgens mnr. Brits.

CV235ars
Die sakke ongebruikte teer lê in die Departement van Vervoer se erf terwyl inwoners uit hul eie sakke vir die herstel van slaggate moet betaal.

“Ek het vir hom al die foto’s deurgestuur waarop hy toe vir my gevra het of ek vir hom kan sê hoeveel teer ons benodig,” het mnr. Gerhard Smit gesê.

Smit het toe alle nodige bewyse glo aan hom gestuur waarop sy terugvoering was,

CV235brs
Die hope ongebruikte sakke teer wat by die Departement van Vervoer lê.

“ons kan julle nie help nie omdat ons verskaffers nog nie betaal is nie.”

Brits het daarna persoonlik na die department toe gery vir ’n afspraak met die bestuurder. Hy het begin onraad vermoed toe hy verby geskeurde sakke teer ry wat die wêreld vol lê.

“Die beste van alles is dat ons belasting betaal vir ons paaie en nou nog addisionele uitgawes aangaan om vir die slaggate te betaal,” het me. Martie van Heerden te sê gehad.

Die munisipale bestuurder, mnr. Theo van Vuuren het soos volg gereageer op navrae oor dié kwessie:

“Die publiek kan nie sonder toestemming werk op publieke paaie nie, aangesien tegniese spesifikasies gevolg moet word. As daar enige ongelukke gebeur om daardie slaggate kan die persoon wat die herstelwerk gedoen het die nagevolge dra.”

Verder het Van Vuuren ook bygelas dat die Provinsiale Departement van Werke ‘n ondersteunende rol speel om “cold mix” aan die munisipaliteit te leen vir as daar ’n tekort kom.

CV235crs
Voertuie besig om die teer te vervoer ’n dag na die probleem aangemeld is by die munisipaliteit.

“Die stapel teer waarna verwys word neem ek aan is “cold mix.” Vir enige inligting met betrekking tot die probleem kan die die Departement van Openbare Werke , Paaie en Vervoer direk benader word.”

’n Dag na die probleem aan die lig gekom het, het ’n bron gesien hoe munsipale voertuie besig is om die sakke teer weg te ry. Dit is onseker waarheen die teer geneem is.

Die woordvoerder van padwerke en vervoer het teen druktyd nog nie gereageer op WITBANK NUUS se navrae nie.
Intussen is daar aan Afriforum se deur geklop om hulp. Die voorsitter van Afriforum, mnr. Paul Broodryk het volgens Brits teruggekom na hom toe en vir hom gesê dat daar dalk ’n moontlikheid is dat hulle teer kan skenk, maar het tot dusver nog nie teruggekom met ’n antwoord nie.

WITBANK NUUS het ook teen druktyd geen terugvoer van Afriforum ontvang nie.
In die tyd wat inwoners opgewonde wag vir ’n antwoord van Afriforum het hulle al begin met voorbereiding van die herstel van slaggate.

Back to top button