Local newsNews

Twee dood op N4

Nog name is in bloed op die N4 geskryf.

Nog name is in bloed op die N4 geskryf.
Twee motorfietsryers van eMalahleni is Saterdag 10 Oktober op slag dood in ’n ongeluk op die Valtaki/Witfontein-afrit.

Antonie Venter (27), Heinrich Janse van Rensburg (34) en twee ander vriende, Theuns en Hendré Pieterse was op pad terug van die Knights Motorfietsbyeenkoms in Pretoria en het eers by The Rose op die snelweg gestop om bene te rek.
Fonnie Dreyer, president van die Victory Life Riders Motorfietsklub vir wie hulle gery het, het die hartseer ongeluk beskryf. Hy en die klub se vise-president, Trevor Dreyer, was kort na die ongeluk op die toneel.

“Heinrich en Antonie het skaars twee minute vroeër as Theuns en Hendré by The Rose weggetrek. Intussen was die Metro Polisie ongeveer 15km voor Bronkhorstspruit besig met ’n spoedlokval,” het Fonnie gesê.

Fonnie het gesê op die toneel is aan hom verduidelik die Metro Polisie het twee karre afgetrek, ’n blou Audi aan die linkerkant van die pad en ’n blou Polo aan die regterkant.
Na bewering het die vrou wat die Polo bestuur skielik in die regterkantse baan voor Antonie ingedraai. Sy motorfiets het haar agter linkerwiel getref en is met die inpak terug geslinger in Heinrich in. Heinrich se motorfiets het onder die stilstaande Audi ingegly.

“Dit was totale chaos, eenkant het een motorfiets uitgebrand en ’n entjie verder het die tweede fiets in stukke op die pad gestrooi gelê,” het Fonnie gesê.

Me. Salomien Warricker de Bruyn kan die dood van haar seun, Heinrich, nie verwerk nie.

zg613-3rs
Heinrich Janse van Rensburg (34).

“Hein was my enigste seun, my liefling. Ek weet nie wat ek sonder hom gaan maak nie. Mammie het nie woorde nie, ek is stomgeslaan. Dit is so onwerklik,” het sy tussen die rou snikke gesê.

In die laaste selfoonboodskap wat hy aan haar gestuur het, het hy geskryf, “Mammie ek is baie, baie lief vir jou.” Die boodskap het sy Saterdagoggend ontvang.

zg613-2rs
Antonie Venter (27).

Me. Liza Janse van Vuuren het Antonie beskryf as haar borrel-kind.

“Hy het net geen einde gehad nie. Antonie het 80 jaar se lewe in 27 jaar in saamgepers en geleef,” het sy gesê.

Antonie se stiefpa, mnr. Peet Janse van Vuuren het genoem dat Antonie nie voetspore in mense se lewens agtergelaat het nie, maar kraters.
Vir Fonnie en die res van Victory Life Riders is hierdie ook ’n harde slag.

“Hulle was motorfietsryers, hulle was my seuns wat die klub se kleure met trots gedra het. Net ware motorfietsryers verstaan die term broederskap. Hierdie twee manne ry nou op die goue snelweg waar daar geen einde aan vrede en liefde is nie. Porra en Jakkals dit was ’n eer om saam met julle te kon ry,” was Fonnie se afskeidsboodskap gewees.

Theuns het ’n boodskap op Facebook geskryf,

“Toe ek vandag huis toe ry kon ek nie ophou in spieëltjies agter my kyk waar julle twee is soos ons Pretoria toe gery het nie. Ek kan nie glo ure terug het ons vier nog gelag en gepraat oor hoe lief ons vir ons families, klub en motorfiets ry is nie. As ek geweet het dit sou die laaste groet wees by die garage sou daar baie meer gesê gewees het maar die druk en ‘mooi ry boeta’ sal nooit vergeet word nie.”

Heinrich was ’n oud-leerder van Morgenzon Landbouskool. Hy het by Universal Suppliers and Epeditors gewerk.
Hy laat sy ma Salomien, pa Chris Janse van Rensburg en susters Louisa en Monique de Bruyn, Almari Janse van Rensburg en verloofde Naomi Swart agter.

Antonie was ’n oud-leerder van die Hoër Tegniese Skool. Hy het by Hygienic Sanitation gewerk. Hy laat sy ma, Liza en stiefpa Peet Janse van Vuuren, pa Antoon en stiefma Marie Venter, broers Johan Venter en Thinus en Theo-Pierre Janse van Vuuren, suster Charlize Jansen, vrou Chantal en hul tweejarige seun, Mallan agter.

zg613-1rs
Die laaste foto van Antonie Venter (27), Heinrich Janse van Rensburg (34) wat Saterdag 10 Oktober by ’n motorfietsbyeenkoms in Pretoria geneem is. Saam met hulle agter is Theuns en Hendré Pieterse.

As ’n eerbetoon aan Heinrich word motorfietsryers gevra om Donderdag 15 Oktober om 10:00 by Funeral Home bymekaar te kom vir ’n massarit. Fonnie het gevra dat elke motorfietsryer ’n blou hemp dra.

Heinrich se begrafnis vind om 11:00 vanuit die NG Kerk Klipfontein plaas.
Antonie se roudiens vind Vrydag 16 Oktober om 12:00 vanuit die NG Kerk Panorama plaas. Motorfietsryers word gevra om pers hemde te dra en 11:00 by Funeral Home bymekaar te kom vir ’n massarit.

Die vrou wat na bewering voor Antonie ingedraai het, se wiel was pap na die slag. Die wiel is glo op die toneel vervang en sy het weggery.
Bronkhorstspruit Polisie is besig om die saak verder te ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button