Local sportSport

Shumba Ferro’s in semi-finaal

Blinkgevryf en trots staan die Pumas Hoëveld Superliga trofee in Shumba Ferro’s se vertoonkas.

Die span het Sasol Saterdag 18 Julie 20-15 geklop om die gesogte trofee hul eie te maak.
Nou lê die groot toets voor die deur wanneer die span dié komende naweek teen Witrivier te staan kom vir die Mpumalanga Superliga trofee.

Die wedstryd teen Sasol was nie ’n maklike een nie. Ferro’s het daarin geslaag om halftyd 20-3 voor te wees.
Die twee vleuels, Bennie Mashabane en Ruben Opperman het keer op keer die wydte van die spel gebruik om meter veld te wen. Bennie self het seker 50 meter deurgehardloop vir ’n skou-drie onder die pale.
Jovan Botha het weereens uitgeblink op sewe-flank en het dalk sy beste posisie op die veld gevind. Sy spel by die afbreekpunte en interaksie met die agterlyn was deurslaggewend op die aanval en verdediging.
In die tweede helfte was die bordjies verhang toe Sasol die oorhand gehad het. Dit het Ferro’s gedwing om hul doellyn meer te verdedig.

Die twee vleuels, Bennie Mashabane en Ruben Opperman spog met die Pumas Hoëveld Superliga trofee.
Die twee vleuels, Bennie Mashabane en Ruben Opperman spog met die Pumas Hoëveld Superliga trofee.

Pieter Streicher en Jaco Marneweck van Sasol het agter die pale gaan kuier en Riaan Boshoff het geslaag met met ’n strafskop en doelskop.
Goeie dissipline, uitstekende agterlynspel en rotsvaste verdediging in die laaste minute, veral deur Christiaan Els en Tommy Collen het die oorwinning vir Ferro’s verseker.
Jannie van der Merwe se skopskoene was weereens sekuur, hy het met ’n strafskop, skepskop met sy linkervoet en ook twee doelskoppe geslaag.

Willem van Niekerk op vaskopstut is as die Spur/Bolt&Nut speler van die wedstryd aangewys en Christiaan Els as agterspeler van die wedstryd.
Dit is weer Willie van der Merwe wat die span se leisels die naweek as kaptein vashou. Die enigste verandering in die span wat Witrivier die slag gaan aansê is Jackie Smit wat met die nommer ses op sy rug gaan speel.

Die wedstryd skop om 15:00 by die Puma Stadion af.

Back to top button