Local sportSport

Agterspelers boer agter die doellyn

Shumba Ferro’s is heelbo aan die Puma Superliga punteleer met 13 punte. Ook die tweede span, Lorent Ferro’s, lei hul pak bo die punteleer met 10 liga punte.

Die spanne het hulself na afloop van die naweek se wedstryd stewig in die posisies genestel.
Shumba Ferro’s het hul derde oorwinning in die liga Saterdag 9 Mei teen Loskop behaal met ’n eindtelling van 36-0. Hulle was halftyd reeds 29-0 voor.
Waar Ferro’s verlede jaar gesukkel het in die vallei het die ervaring van die Gemeenskapbeker en ’n agterlyn wat kookwater rugby speel die knoop deurgehak.

Izan Green, wie aangewys is as die Spur/Bolt&Nut speler, het ’n reuse wedstryd gespeel. Die voorspeler se aansluiting by die agterlyn en sterk lopies in die middelveld het telkemale meters veld gewen met spelers altyd daar om weer van hom af die bal verder te dra.
Die agterspeler van die wedstryd was Christiaan Els. Hy het die  Loskop manne met ongenaakbare verdediging geen deurkomkans in sy kanaal gegun nie en sy kommunikasie met die res van sy agterlyn beteken ongelooflik baie vir die span.

Daar kan duidelik opgemerk word dat Ferro’s se skrumwerk by die dag verbeter. Hulle het Loskop se groot pak voorspelers behoorlik op die agtervoet gesit in die skrums en by die afbreekpunte.
Ferro’s het in die wedstryd vyf drieë gedruk waarvan vier deur die agterspelers was.
Drieë was gedruk deur Armand Botha, Ruan Du Plooy, Ruben Opperman en Christiaan. Dit was veral WF Kotze se krag drie wat toeskouers regop laat sit het. Dié jong vaste voorspeler gaan sekerlik vanjaar nog sy merk maak in klubrugby en word daar groter dinge van hom verwag in die toekoms. Armand het sy skopskoene slaggereed gehad en vier van die doelskoppe sekuur deur die pale gestuur en boonop ook ’n strafdoel geslaag om 16 punte in die wedstryd aan te teken.

Die tweede span het teen seker die grootste tweede span in die liga hul wedstryd met 19-16 ( halftyd 14-6) gewen. Die karakter wat die span getoon het was prysenswaardig. Die span is met Jean-Di Oosthuysen se terugkeer na 15-man rugby gehelp. Jean-Di het in die ongewone posisie as senter diens gedoen en kan heel gemaklik voel oor sy eerste wedstryd na ’n lang termyn by die SA League span.
Hy is slegs vir ’n kort rukkie beskikbaar vir die klub en Ferro’s sal ’n fout maak om hom nie behoorlik aan te wend in die paar weke wat voorlê nie.

Die tweede span se drieë is deur Slams Nkonyana, Musa Mulambo en Christo Swart gedruk. Buks van der Merwe het die telling aangeskuif met twee suksesvolle doelskoppe.

Die klub speel eerskomende Saterdag, 16 Mei tuis. Dit gaan ’n lekker vol dag van rugby wees met Hurricanes wat om 13:00 teen Matla op die veld draf waarna Ferro’s teen Standerton sal kragte meet.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C00F om jou nuusflitse gratis te ontvang.

 

Back to top button