BlogsEditor's noteOpinion

Suid-Afrika, nie ‘n land vir sissies nie

Vanaand sit ek en die Engelsman langs mekaar buite op die stoep, hy met sy glas whiskey en water en ek met my soetetjie. Hoekom dan buite sit?

Omdat daar in die straat voor die huis meer aangaan as binne in die huis.
In die straat is daar darem nog ‘n soekende hond of ’n verdwaalde siel te sien. In die donker huis met sy morsdooie TV is daar niks te sien nie. Net op die koue stoof ’n halfgekookte aandete.

Ek kry die Engelsman jammer, want hy het ’n miserabele week gehad. Maandag op pad werk toe het hy nie genoeg zig-zag, soos ’n dronkie, gery nie en ’n slaggat getref. Hy was meer kwaad vir die een slaggat wat hy getref het as wat hy bly was oor die duisend en een ander slaggate wat hy wonderbaarlik gemis het.
Nadat hy die gebarste wiel omgeruil het, het hy die bakkie so ’n bietjie aangestoot om die halfuur wat hy met die wiel omruilery verloor het, in te haal. Dit is toe net daar waar die meestal onmoontlike gebeur het, ‘n verkeersbeampte op diens. Engelsman het met ’n verkeersboete van R500 in sy sak verder gery.

Twee dae later was daar ’n ongeluk op sy pad werk toe. Die verkeer het vir ongeveer 30 minute glad nie beweeg nie en daarna met ’n slakkepas verder gekruie. Hy het maar met die bakkie onder die spoedgrens gehou, terwyl hy self in die rooi ‘geref’ het.
Toe gaan en verloor sy geliefde Cheetahs ook nog. En hulle het nie net verloor nie, hulle het sleg verloor. Dit was genoeg om van te huil.
Net om die kersie op die koek te sit, toe gaan maak AB en sy hoog aangeskrewe Proteas skandes. Hulle gaan staan en verloor in die semi-finaal teen Nieu-Seeland. Dit lyk of die Proteas maar net nie opgewasse is wanneer die groot oomblikke aanbreek nie.
Om nog ’n kersie op die koek te sit, toe gaan sluk die Blitsbokke ook nog ’n wind toe hulle in die semi-finaal teen Fidji verloor.
“Ja,” seg die Engelsman “ou Jeremy Clarkson het ook die trekpas uit Top Gear gekry!” laat hy mismoedig hoor.

In my hart kry ek die Engelsman innig jammer, hier waar hy langs my sit. Nie eers een blokkie eish in die glas nie, want as gevolg van die kragonderbreking het al die ys in die yskas gesmelt. Arme Engelsman.

Asof hy my gedagtes lees, sug hy net. ‘Jy weet my vrou, hierdie land van ons is nie ’n land vir sissies nie’.

You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button