Local sportSport

Shumba Ferro’s het diep gedelf

Shumba Ferro’s het die afgelope naweek hul hoogste telling nog in dié seisoen se Gemeenskapsbeker aangeteken deur Welkom Rovers behoorlik 67-35 kaf te draf.

Ferro’s was rustyd 24-14 voor en het met die momentum voortgegaan om uiteindelik as wenners van die veld af te kon stap.
Hulle het die wedstryd in elke aspek oorheers hetsy dit skrums, lynstane of losgemaal was.
Die span het altesaam nege drieë gedruk.

Die heelagter Louis Roos en die spoedvraat Pule Sibiya op linkervleuel het elkeen twee keer agter die doellyn gaan kuier.
Jannie van der Merwe het sy skopskoene ingepak en vyf doelskoppe sekuur deur die pale gestuur.
Die reserwe, Armand Botha, het met drie doelskoppe geslaag.
Ook die besoekers se skopskoen, Tiaan van Wyk, het gespog met ’n 100% slaagsyfer toe hy al vyf die Rovers se drieë verdoel het.
In die lynstane het Werno Smit en Dylan Pieterse ongelooflike werk gedoen. Op ’n stadium het dit gelyk of Rovers se haker spesiaal net vir Ferro’s ingegooi het.

Dylan Pieterse rank in die lynstaan.
Dylan Pieterse rank in die lynstaan.

As daar na die span se diepte gekyk word, kan daar met sekerheid gesê word dat hulle dit uiteindelik reggekry het om diepte te verseker. Toe Gerhard Munro van die veld af is na ’n besering het die afrigters die agterlyn bietjie rondgeskuif met geen verandering in die ritme en samespel nie.
Ook hul hardlooplyne is iets om oor te spog. Nadat hulle weke lank geoefen het aan hul hardlooplyne, het hulle uiteindelik die kuns vervolmaak en die agterlyn het mooi aanvallende rugby gespeel en van mekaar se skouers af gehardloop
Die baie jong Lorent Ferro’s span het egter nie rede gehad om fees te vier nie.
Hulle het hul wedstryd teen Middelburg Rugbyklub met 17-3 verloor.

Die buurdorp se span het die skrums heeltemal oorheers en hul ervare agterlyn was die tuisspan se doodsteek.
Eintlik moes Middelburg se voorsprong heelwat groter gewees het as in ag geneem word dat Ferro’s se agterlyn maar net uit o.19 spelers bestaan.

Werno Smit op volle spoed.
Werno Smit op volle spoed.

Ferro’s se verdediging het met tye uitgerafel en dit was juis waarop Middelburg gefokus het en so het hulle maklik oor die voordeellyn gekom.
Ferro’s is nou vir die volgende twee weke af en speel eers weer 11 April wanneer die Puma-liga begin met ’n weg-wedstryd teen Sasol.

Die groot derby teen Middelburg vind Saterdag 18 April op die Puma Stadion plaas.

Back to top button