Local sportSport

Shumba Ferro’s reg vir Gemeenskapsbekerreeks

Daar word nou gehammer en getimmer om die span te beitel wat die komende naweek afskop in die Cell-C Gemeenskapsbekerreeks.

Shumba Ferro’s speel Saterdag 21 Februarie weg teen Wesbank op die pragtige Malmesbury.
Wesbank soek wraak nadat hulle verlede jaar die knie moes buig teen Ferro’s hier in eMalahleni. Hulle het die wedstryd 30-20 verloor.
“Ons is reg vir hulle. Ons het byna ons volle groep van verlede jaar behou,” het Willie Oosthuizen, afrigter gesê.
As gevolg van beserings, verpligtinge teenoor ander rugby ligas en een speler wat verhuis het, sal net vyf van die oorspronklike span nie vanjaar beskikbaar wees nie.

Met die oog op jong talent is Willie opgewonde oor die nuwe aanwinste by die klub.
“Ons het heelwat aanwinste en is veral opgewonde oor die jong spelers wat uit Emalahleni by ons aangesluit het en dan ook die spelers wat die Pumas vrygestel het om by ons te speel in die reeks,” het Willie gesê.

Ruben Opperman en Hugo van der Merwe is die nuwelinge vanuit die Steenkoolstad.
Steval Pumas het WF Kotze, Theo Kruger, Rueben Carelse, Pule Sibiya en Bennie Mashobane vrygestel om vanjaar klubrugby te speel.
Die duo Cole de Jager en Dylan Pieterse, verlede jaar se Pumas o.19 spelers, het aangebly en sal in die Curriebekerreeks o.21 in aksie te sien wees.

“Dan het daar ook n paar spelers van Middelburg by ons aangesluit waarvoor ons baie dankbaar is, Gerhard Munro, Johan van der Walt, Henzon Ngozo en Sandile Ngwenya,” het Willie genoem.
Die klub het ook Armand Botha, al die pad van Durban Crusaders af verwelkom.
Hierdie is die derde jaar wat die Cell-C Gemeenskapsbekerreeks gespeel word. Die voorste klubs landwyd neem aan die reeks deel, wat die eertydse nasionale klubkampioenskap vervang het.

Rustenburg Impala is saam met Old Selbornians (Grens), Springs (Valke), Durbanville-Bellville (WP) en Port Elizabeth Polisie (Oostelike Provinsie) in groep A. Springs en PE Polisie het nog nie voorheen in die reeks gespeel nie.
Groep B bestaan uit Raiders (Goue Leeu), Pretoria Polisie (Blou Bulle), Bloemfontein Crusaders (Vrystaat), Noordelikes (Blou Bulle Limpopo) en College Rovers (KwaZulu-Natal). Rovers het die ou klubkampioenskap in 2010 en 2012 gewen en was in 2013 die naaswenner met die instelling van die huidige reeks.

In groep C speel Hamiltons (WP) saam met Villagers Worcester (Boland), Sishen (Griekwas), Pacaltsdorp Evergreens (Suidwestelike Distrikte) en Wanderers (Goue Leeus). Hamiltons en Wanderers is twee van die oudste klubs in die land en bestaan reeds langer as 120 jaar. Dit is Wanderers se eerste proesel van die kompetisie.
Durban Collegians meet in die groepfase kragte met Despatch (OP), Welkom Rovers (Griffons), Witbank Ferro’s (Mpumalanga) en Wesbank (Boland). Despatch het die titel in 2013 gewen.

Back to top button