CrimeNews

Video: Inbreker seil soos slang deur kantoor

’n Glibberige verdagte is onlangs op kamera vasgevang toe hy deur die kantore van Venter De Jager Ouditeurs ‘geseil’ het.

Sondagoggend 1 Februarie het geweerskote afgegaan toe sekuriteit ’n verdagte dief agternagesit het. Dit volg na daar weereens by Venter De Jager Ouditeurs in Uitbreiding 5 ingebreek is en die verdagte ’n ruit gebreek het om met sy gesteelde buit weg te kom.
“Dis nou seker al die twintigste keer wat hul hier inbreek,” het mnr. Dimitri de Waal vertel en verduidelik van al die sekuriteitstoestelle wat al in plek gesit was om inbrake te verhoed.

Omstreeks 02:22, het De Waal die oproep ontvang van ’n inbraak by die perseel.
Sekuriteit het glo die verdagte dief voorgekeer buite die gebou en hom agternagesit. Daar is op die verdagte geskiet, maar hy het ongedeerd weggeglip en bo-oor ’n geëlektrifiseerde heining gekom.

’n Sekuriteitskamera het die hele voorval vasgevang. Na die verdagte glo by een van die kantore se vensters ingebreek het, het hy op sy maag deur die plek geseil. Dit blyk of hy presies geweet het waar om te kyk vir die ander kantore se sleutels.
Hy het na die sekuriteitskamera geseil en dit opgedruk sodat hy met gemak verder deur die kantoor kon beweeg. Die kamera het egter steeds die beeld opgetel toe die dief deur nog ’n ruit gebreek het om vinnig by die perseel uit te kom.

De Waal vertel dat die verdagte gelukkig met niks weggekom het nie. Die verdagte het’n tas vol sleutels uit die kantoor gekry, maar na hy deur sekuriteit betrap was, het hy sy buit agterna gelaat en gevlug.

’n Saak van inbraak word tans ondersoek. Die verdagte is nog nie aangekeer nie.

Back to top button