Editor's choiceLocal newsNews

Waarde van ’n gemeenskap

Al word die water minder, dienste duurder en gate in die stad al hoe groter, bly die gemeenskap... die hart van eMalahleni... goud werd.

Na ’n voorval, waar ’n man in sy rolstoel in ’n slaggat vasgekeer was, het lede van die gemeenskap soos een man gereageer om hul medemens by te staan.
“Vanaand is ek baie ontsteld. Ons straat is in ’n toestand As gevolg van die gate. Op pad huistoe vanaand is daar ’n man in die pad met sy rolstoel. Hy het ’n gat getref en geval. Hy was op pad huistoe van die kerk af. Sy rolstoel het gebreek. Ons en ’n ander motor het gestop om te help. Waar gaan die arme man weer ’n rolstoel kry?” het Helen Beukes Krüger Sondagaand 18 Januarie op Facebook geskryf. Sy het byna ’n onmiddellike reaksie gekry van ander Facebook gebruikers wat op haar kommentaar gereageer het.

George White, ’n lid van die Lig en Lewe Bedieninge, het Dinsdag 20 Januarie die voorval herroep en vertel wat Sondagaand gebeur het. As ’n parapleeg van geboorte was George verbonde aan ’n rolstoel en afhanklik van sy stoel om hom van plek tot plek te kry. George wat naby aan die Lig en Lewe Bedieninge Kerk woonagtig is, vertel dat hy elke Sondag self kerk toe ry in sy rolstoel en hindernisse, in die vorm van slaggate, in De Kockstraat dan moet aandurf. George en menige ander gemeenskapslede in die gebied is van mening dat De Kockstraat van die grootste slaggate in die stad besit.
“Ek was 21:00 op pad terug huis toe na die diens Sondag. Daar is geen ligte in die straat nie en ek moes maar die gate so probeer mis ry. Ek was aan die sy van die pad toe ek die gat tref en uit die stoel val,” het George vertel. George vertel dat hy gelukkig is dat hy nie met sy gesig eerste in die slaggat vol water beland het nie. Gelukkig ook dat ander lede van Lig en Lewe Bedieninge byna dieselfde oomblik in die straat ingedraai het en hom langs die pad gewaar het.

Alhoewel George ongedeerd was na die val, het die raam van sy rolstoel gebreek en was hy afhanklik van sy barmhartige medemense om hom by sy huis te kry.

Na die voorval op Facebook bekend gemaak was, was daar ’n groot reaksie van die gemeenskap. Phillip Olckers het dadelik aangebied om vir George ’n rolstoel te skenk en so ook het lede van die Lig en Lewe Bedieninge bymekaar gekom om George te help.

“Ek wil net uit my hart uit baie, baie dankie sê aan dr’s Peet en Anita van Kraayenberg, die leraar-egpaar van Lig en Lewe Bedieninge wat my so gehelp het. My medelidmate van Lig en Lewe… Frik en sy vrou wat my daai aand gehelp het. Ek wil ook net dankie sê aan die breër publiek wat soveel omgee gewys het. Dis tye soos die wat ’n mens die waarde van ’n gemeenskap kan sien,” het George ten slotte gesê.

*Lede van die gemeenskap het ook die slaggate in De Kockstraat gerapporteer en wag tans vir terugvoer.

Back to top button