Local newsNews

Vervoerprobleme kan dalk seuntjie se toekoms verongeluk

Wanneer jy mooi na Wynand Veldsman kyk sien jy die hartseer in sy groen ogies.

Wynand Veldsman is net 7-jaar oud. Op sy sproetgesiggie staan die woord ‘ondeund’ sommer in hoofletters geskryf, hy glimlag en is baie sku vir die kamera. Dis wanneer jy mooi kyk dat jy die hartseer in sy groen ogies sien.

Wynand het ‘congenital motor nystagmus’ dit beteken hy het abnormale oë bewegings en sy sig is nie baie goed nie.
“Ek het brilletjies, maar dis nou gebreek,” het hy vertel.

Wynand begin dié week by Prinshof Skool vir blindes in Pretoria skoolgaan.
Hy was verlede jaar ’n leerder by Laerskool Panorama.
“Ek is baie lief vir Juffrou Henning. Sy is net kwaai as die kinders baie praat,” het Wynand vertel.
Wynand se skoolfonds is betaal en sy skool benodighede is alles aangekoop, maar die familie sit met ’n dilemma. Hulle voertuig is gebreek en hulle kan Wynand nie by die skool kry of Vrydae weer gaan oplaai nie.

Met haar vingers styf ineengestrengel pleit-vra me. Madelein Veldsman of iemand Wynand met vervoer kan help.
Wynand moet Sondae-aande of vroeg Maandae-oggende by die skool wees en hy moet Vrydae-middae voor 18:00 gehaal word.
“Asseblief, hierdie is my seuntjie se kans om sy skoolloopbaan voort te sit,” het me. Veldsman gevra.
“Ek gaan na ’n nuwe skool toe en ek gaan baie maatjies hê,” het Wynand afgerammel voor hy om die hoek verdwyn het.

As enige persoon kan help met vervoer vir Wynand, skakel me. Christa Venter: 083 484 7060.

Back to top button