Local newsNews

’n Lewensverhaal, ’n lewenswyse

Met ’n potlood in die hand het hy begin om sy lewensverhaal te skryf. Hy dink weer terug aan die dae so lank gelede... aan ’n tyd wat die wêreld nog nuut was vir hom, en aan ’n lewenswyse wat so anders was as nou.

Oom Dawid Jansen laat iets spesiaal agter vir sy nageslagte. Sy geskiedenis, ryk met seëninge en baie liefde.
Oom Dawie begin sy verhaal in Weza, KwaZulu-Natal in 1936 waar hy gebore en getoë is. Hy onthou baie van die staat se bosbou-plantasie en die sinkdak-klaskamers waar hy skoolgegaan het. Op die ouderdom van 13 het sy ouers na Potchefstroom toe verhuis. Soos Oom Dawie beskryf hoe hy vir die eerste keer ’n trein gesien het en ’n ‘spoel-toilet’, word mens weggevoer na ’n ander wêreld saam met hom.

Hy het op Grasmere skoolgegaan totdat hy, op die ouderdom van 16, by die spoorweë begin werk het. “Ek het vir ’n jaar as klerk gewerk en toe as stoker,” vertel Oom Dawie. “Dit was baie, baie harde werk.” Oom Dawie se oë blink sommer so as hy praat oor die treine, veral die stoomlokomotief waaroor hy later as drywer aangestel was.

Dit was gedurende dié tyd, op 24 Septmber 1959 om presies te wees, wat Oom Dawie die liefde van sy lewe gevind het. Hy het Tannie Joey by ’n Pinkster Kerk biduur ontmoet. “Ons ontmoeting was so spesiaal, dat hul dié dag sommer ’n amptelike vakansiedag verklaar het,” het Oom Dawie laggend geskerts en toe weer ernstig bygevoeg: “Ons het daai eerste aand ‘gekliek’ tot vandag toe.”

Tannie Joey (née Jacobs) is gebore in 1942 op die plaas Zoetemelksvlei. Sy was laerskool toe in Grasmere ‘so reg onder Oom Dawie se neus’ en het hoërskool in Johannesburg voltooi. “Ek onthou toe ek haar die eerste keer gesien het – daai skraal, mooi meisietjie…” Oom Dawie se woorde raak weg en sy oë vonkel met herinnering. Tannie Joey bring die digter in hom uit. Hy het bladsye vol gediggies oor en vir haar geskryf in sy jonger dae en kan steeds liries raak oor sy nooi.
Tannie Joey sal nog die dag herroep toe Oom Dawie vir haar op die plaas kom kuier het en hul so op ’n bankie voor die koolstoof gesit het, waar hy haar toe so skaam-skaam gevra het om sy meisie te wees.

Die paartjie is in 1960 getroud. Oom Dawie se lewensverhaal het toe een geword met die van Tannie Joey.
In 1970 het oom Dawie besluit om matriek te voltooi en het vir twee lang jare geswoeg om sy studies en werk te balanseer. “Ek was daai tyd maar baie min by die huis. Ek het vroeg oggend opgestaan om te gaan werk en dan na werk die trein gevat van Germiston na Johannesburg waar ek aandklasse geloop het,” vertel Oom Dawie. Hy kyk me deernis na Tannie Joey wat hom bygestaan het – Sy sielsgenoot en steunpilaar.
Die resep vir ’n suksesvolle huwelik, sê Oom Dawie, is om ’n tuiste saam te maak in die Huis van die Here.

Na 54 jaar, kan hul dankbaar wees vir al die seëninge en liefde in hul lewe. Hulle is die ouers van vyf kinders, agt kleinkinders, ses aangetroude kleinkinders en twee agterkleinkinders.
“Ons lag nog daagliks saam… druk mekaar… en bly steeds lief vir mekaar.” Oom Dawie hou sy Joey styf aan sy sy. Dis sy geskiedenis, sy lewenswyse, sy lewensverhaal.

Back to top button