Local newsNews

18-maande oue baba verloor pa op N4

Die 18-maande oue Mieke is nie bewus van die tragedie wat ook ’n invloed op haar lewe gaan hê nie.

Haar pappa, die 26-jarige Riaan van Zyl is Saterdag 8 November in ’n motorongeluk dood.
Die ongeluk het tussen 15:00 en 15:30 by die Hendrina-afrit plaasgevind.
Riaan was oppad huistoe.

Vir Riaan se familie het die harde werklikheid nognie plek gemaak in hul gedagtes nie.
“Riaan was my ou-bul gewees,” het sy broer Renier Dinsdag 11 November gesê.
Renier het gesê daar is nog nie duidelikheid oor wat die oorsaak van die ongeluk is nie.
Middelburg SAPD het gesê dit blyk of Riaan beheer oor die Kia wat hy bestuur het, verloor het.

Riaan wat in eMalahleni gebore is, het by Laerskool Koornfontein en toe die Hoër Tegniese Skool skoolgegaan.
Hy was agt jaar lank werksaam by Motomid in Middelburg. Ter nagedagtenis aan hom het die motorhandelaar ’n foto van hom opgehang.
“Hierdie is ’n reuse skok vir ons almal. Riaan was almal se vriend,” het me. Lyndi van Aarde, een van Riaan se kollegas gesê.

Sy het gesê Riaan het as voorman by hulle gewerk.
“Riaan het lig in ’n donker plek ingebring. Hy was ’n sonstraal,” het sy ma me. Annatjie van Zyl gesê.

Riaan was verloof aan me. Stephanie Koger en hulle sou in Julie volgende jaar trou.
Sy begrafnis word Vrydag 14 November om 11:00 by die Cathedral of Christ the King in Allenbystraat gehou.
Riaan laat sy ma, broer, verloofde en dogtertjie agter.

*Die familie bedank almal vir die boodskappe en oproepe, ook die forensiese-afdeling van Middelburg se SAPD, Motomid, hul familie en vriende.

Back to top button