Local newsNews

Sy pen is liries

Oom Danie Erasmus gesels nie maklik oor homself nie. Sy bruin oë waarsku jou om nie onnodig lank te hamer met vrae nie. ’n Glimlag het egter sy mondhoeke opgetrek toe hy oor sy gedigte gepols word.

Oom Danie (71) se gedigte is al in twee digbundels gepubliseer en sy eie bundel ‘Sielskos deur Poer’ het ’n paar jaar terug die lig gesien.
Dit is tussen die verse dat sy siel bakpoeier kry.

Oom Danie is in 1943 in die skilderagtige dorpie Somerset-Oos gebore. Die dorpie is aan die voet van die Bosberg geleë.
“Die dorpie se plantegroei is altyd verrassend groen wanneer jy ná ‘n tog deur die Karoo daar aandoen,” het Oom Danie die dorpie beskryf.

Hierdie voorkoms is juis te danke aan die einste Bosberg wat die reënwolke van die see af hier voorkeer. Die hange van die berg is bedek met welige inheemse woude en in die dorp self is die tuine ‘n lushof.

Hier aan Bosberg se voet het hy groot geword.
Oom Danie se gedigte vibreer met emosies, dit vertel van verwyte, verlies en verlange.

So het hy die lot en verbittering is ’n ‘township’ beskryf, “Het God sy rug gekeer op die verkragte land? Waar al die hoop en drome tot ’n koue as verbrand?” In nog ’n vers in dieselfde gedig skets hy die harde werklikheid van kinders vir wie opstande ’n norm geword het, “Waar is die kaalgatklonkies wat in die stof baljaar? Is dit hulle wat daar grootoog na swartverbrande lyke staar?”

Daar is ook bietjie geskiedenis in Oom Danie se ink vasgevang soos die huldeblyk wat hy aan Pieter Pieterse geskryf het. Pieter se sussie het jare na die legende se dood die gedig gelees en Oom Danie en sy vrou, Tannie Su ontmoet.

So het Oom Danie Pieter onthou, “Daar’t hy hempeloos en kaalvoet, oor die sand by die see gestap. Soekend na ‘n arikreukel, ‘n mossel, kreef of krap.Om saam met sy megêfters, ‘n koningsmaal te maak. Waaroor seekoskenners, altoos in ekstase raak.”

Oom Danie se lewe is vol satires en hy maak ’n punt daarvan om die humor daarvan in elke dag uit te leef.
Hy was vir 23 jaar by Eskom werksaam voordat hy in 1999 afgetree het. Hy en Tannie Su woon al vanaf 1977 in Ga-Nala of soos die steenkooldorpie eers bekend was, Kriel.

Hy het ’n oplossing vir Eskom se landswye probleme, “Die onbevoegde mense is besig om Eskom se doodsvonnis te teken. Gaan terug tekenbord toe en stel mense aan met die regte kennis en ondervinding,” het hy raad gegee.

Oom Danie en Tannie Su is al 46-jaar lank getroud. Hulle het saamgestem dat hulle dit reggekry het om die fyn drade van respek, liefde, vertroue en aanvaarding saam te vleg sonder enige onnodige fieterjasies. En as die liddorings van die lewe hulle effe onkant vang kry hulle antwoorde in die mooiste en mees bekendste digbundel van alle tye, die Bybel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button