CrimeNews

20-jarige gearresteer vir Khat

“Ek is moeg, ek is emosioneel ge*#&,” het die woorde van ’n 20-jarige man tussen die mure van ’n sel weerklink.

Hy is in die vroeë oggendure van Dinsdag 5 Augustus by sy ouers se huis in Ga-Nala gearresteer vir die besit van dwelms.
’n Pakkie Khat is in sy besit gevind. Op sy arms het die merke hul eie verhaal van die man se verslawing vertel.

Die man wat anoniem gehou word tot hy gepleit het, het die deur van sy verslawing op ’n skrefie oopgemaak.
“Ek rook al sewe jaar zol,” het hy gesê. Sy oë het versluier toe hy begin praat oor die dwelm wat sy tentakels styf om sy menswees gedraai het, Khat.

’n Pakkie Khat kos R200 per gram en hy het gesê ’n pakke hou hom so drie dae. Hy snuif die dwelmmiddel nie, hy meng dit met water en spuit homself daarmee in. Dit doen hy glo al die afgelope drie jaar.

Tydens die man se inhegtenisname het sy ma woordeloos, eenkant gesit en een sigaret na die ander gerook.
“Ek vermoed al lankal hy gebruik iets,” het sy gesê en verby hom gestaar. Sy het gesê sy gee vir hom van haar slaappille omdat hy sukkel om te slaap.

“Partykeer gee ek, partykeer steel hy dit,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button