Local newsNews

Stokke gaan swaai vir stamseloorplanting

Die gholfstokke word afgestof vir 'n gholfdag vir jong pappa.

Die gholfstokke word afgestof vir ‘n gholfdag wat daarop gemik is om fondse te in vir ‘n plaaslike inwoner wat stamselbehandeling benodig.

Op 15 November word ‘n gholfdag by Witbank Gholfklub gehou om hoop vir ‘n jong pappa in ‘n rolstoel te skep.

Die fondse wat op die dag ingesamel word, gaan gebruik word om die enorme mediese kostes van die stamseloorplanting te befonds.

Vir Adriaan de Waal lê daar ‘n lang pad voor, maar die pappa van twee is vasberade om sy ongeluk ‘n deel van sy verlede te maak ter wille van sy verloofde, Zaresa (28) en twee kinders Elijah (vier) en Zardi (drie maande).

Meer as ‘n dekade gelede was Adriaan (30) nog ‘n energieke, entoesiastiese jong man wat ‘n liefde vir die son, sand en see gehad het.

Dit was totdat ‘n fratsongeluk sy lewe in 2011 in ‘n oogwink verander het en hy die toekoms met ‘n rolstoel moes aandurf.

Sy reis was tot hier geensins maklik nie, maar die revolusionêre stamseloorplanting bring vir dié dapper vegter weer hoop.

Adriaan de Waal.

Adriaan het op die bloedjong ouderdom van 17 op ‘n doodgewone dag teen ‘n sandbank vasgeduik terwyl hy in die see by een van Natal se gewildste vakansieplekke geswem het.

Toe daar vasgestel is dat Adriaan se sewende rugwerwel in die fratsongeluk gebars het, is daar gesê die kans dat hy ooit weer sal loop, feitlik nul is.

“Here, ek wil weer loop, die gras onder my voete voel en weer bal skop,” dit was die pleidooi in gebed in 2012 van die jong man wat verlam gelaat is na ‘n fratsongeluk.

Maar Adriaan het die teendeel bewys en deur geloof en gebede is sy verbetering sodanig dat hy glo hy gaan binnekort sy eerste tree gee deur middel van die stamseloorplanting en intensiewe rehabilitasie.

Die volgende stap in die eksperimentele behandeling is ‘n direkte inplanting van stamsel op die area van sy besering in sy rugmurg.

Tog is daar ook hoë kostes verbonde aan die kweking van die stamsel wat ingeplant moet word.

“Ek klou aan my geloof vas. Ek sien die wêreld nou deur ander oë. Ek weet ek sal weer kan loop. God het ‘n plan met my. Ek verstaan net nie aldag wat Sy plan is nie, máár ek glo Hy sal my op Sy eie tyd laat weet,” het Adriaan emosioneel gesê.

Vir pappa Adriaan lê daar nog ‘n taai en klipharde pad voor, maar met jou hulp is hy positief dat hy weer sal kan loop, so kom swaai jóú stok saam vir die stamseloorplanting.

Vir meer inligting in verband met donasies, pryse en borge, skakel vir Zaresa by
078 538 7068.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button