Local newsNews

Goue oues vertel: Reën of kapok, Oom Dries se syfers word altyd noukeurig aangeteken.

“Agge nee, ons reëns het niks te make met oudpres. Paul Kruger se verjaarsdag nie,” het oom Dries Bothma lekker gelag.

Diegene wat glo die eerste behoorlike lentereën val dikwels eers ná oudpres. Kruger se verjaardag op 10 Oktober gaan vinnig van deuntjie verander as hulle na Oom Dries se syfers kyk.
“Verlede jaar het ek 28mm reën op 8 Oktober, twee dae voor Oom Paul se verjaarsdag gemeet. In 2011 het daar 24mm op 1 Oktober, 10mm op 2 Oktober en 4mm op 3 Oktober geval,” het Oom Dries gesê.

Die bruin omslag van die boek waarin hy al vanaf 1976 getrou die reënlesings inskryf, is al verslyt. Maar in die blaaie tussen die omslag, wat eens vir die staatsdiens gebruik was, is waardevolle inligting.
“Elke môre klokslag 07:00 gaan kyk ek na my reënmeter en teken die syfers aan,” het Oom Dries vertel.
Die blaaie ritsel tussen Oom Dries se hande, terwyl hy sy syfers nagaan. Hy het na die datum wat in sy netjiese handskrif aangeteken is gewys en gesê, “Die jaar 2009 was ’n goeie jaar. Die hemele het hul sluise oopgemaak Daardie jaar het ek 1 260mm reën aangeteken. Die meeste ooit in 12 maande.”

Tussen die aantekeninge is pêrels, soos die kapok wat op 11 September 1981 aangeteken is. “Ek het ’n goeie 10mm kapok op my grasperk gehad.”
So dan en wan teken Oom Dries ook interessanthede op soos 26 Junie 1992 toe die kwik tot -4 gedaal het en in die middag was dit so 11grade. Op 23 Oktober van dieselfde jaar het ons mouloos en met kortbroeke geloop, die kwik het toe tot 34grade gestyg.”
“Jy moet kom kyk my perskeboom se bloeisels het al gespeen en die groen blaartjies kom al skaam-skaam uit. Vanjaar kry ek spog perskes.”
Dadelik het Oom Dries ’n antwoord toe daar gevra word, nou wat as oom en Tannie Rachel bietjie verlof vat? “Ek kry iemand om te gaan kyk en neer te skryf.”

Tannie Rachel het in 1965 saam met Oom Dries begin werk. Maar dit het haar lank gevat om ja te sê en in 1971 is hulle getroud.
“Nee, dit het nie gereën op ons troudag nie, nie wat ek kan onthou nie,” het hy as ’n nagedagte bygevoeg.
Oom Dries lyk baie jonger as die 70 jaar wat sy identiteitsboekie weergee. Sy mondhoeke krul wanneer hy lag,  jy kan sommer sien Oom Dries bly so ‘jonk’ want hy bly besig.

Hy bly sy hele lank in die Steenkoolstad en het vertel dat hy sy eerste tree in sy skoolloopbaan by Laerskool Sonskyn gegee het. Dié skooltjie was reg langs die ou poskantoor in die sentrale besigheidsarea en daar was graad eens, twees en standerd eens.
Die skoolbanke by Hoërskool Generaal Hertzog moet êrens nog ’n hartjie met oom Dries se voorletters op wegsteek. Met so ’n paar fletsblou oë moes hy ’n hartebreker op skool gewees het. Nadat sy ouers verhuis het, is hy na Hoërskool Middelburg se koshuis waar hy gematrikuleer het.

“Toentertyd was Witbank nog Witbank gewees. Dit was ’n groot gebeurtenis toe die provinsiale hospitaal gebou is. Dit was ietwat ver uit die dorp en jy moes maar grondpad aandurf tot daar. Ai, wat ’n gebeurtenis,” het hy in sy herinneringe gegrawe.

Oom Dries het eers by die destydse Ontwikkelingsraad gewerk tot die ontbind is. Hy het toe vir 20 jaar by die Departement van Binnelandse Sake gewerk as ’n Immigrasiebeampte.

Hy en Tannie Rachel se drie dogters, Mariska, Clodette en Rozaan bly almal hier in eMalahleni. Hulle is geseën met vyf kleinkinders waarvan net een ’n seun is.
“Hulle sê mos altoos, ’n goeie bul het altyd ’n verskalf,” het Oom Dries met ’n vonkel in die oog gegroet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button