Local newsNews

Stank en liefde op die Hoëveld

Leana van der Merwe is keelvol vir die water probleme maar haar hart het liefde gevind.

Leana van der Merwe het onlangs eMalahleni toe getrek van Langebaan af, en elke dag wonder sy wat gaan met hierdie munisipaliteit aan.

Kort nadat sy hier arriveer het, het die water by haar huis afgegaan, en dit is nou al meer af as wat dit aan was. “Ek is nie gewoond aan hierdie soort probleme nie. In Langebaan was daar nooit sulke probleme nie.

Ek het in eMalahleni grootgeword, en met die dam wat altyd water het, was daar in my geheue nooit sulke probleme nie,” het sy gesê.

Die hele woongebied van Blancheville het knaend wateronderbrekings en amper op ’n daaglikse basis sien mens hoe water in die paaie afstroom van die pype wat bars.

Net nadat Leana hiernatoe getrek het, het sy vir weke lank haar besluit berou.

Maar gelukkig het sy onlangs liefde in Middelburg gevind, en dit is baie gerieflik om by haar ‘Liefie’, soos sy hom noem, te gaan kuier – en te stort.

“Middelburg lyk my is in ’n baie beter toestand as eMalahleni. Alles val stukkie vir stukkie in die dorp uitmekaar uit, en dan moet mens nog hoor hoe die vorige burgemeester ’n hoër pos gekry het, maar sy kon glad nie eers haar werk hier reg doen nie? Wat kan ons doen behalwe ons koppe skud,” het sy moedeloos gesê.

Haar voete onthou nog die wonderlike skoonheid en natuur van Langebaan, en die gerief van ’n kraan net oopdraai en soos towerkuns vloei skoon water, maar vandat sy hier is, moet sy op die genade en storte van vriende staatmaak om te kan skoon bly.

“Vir die eerste keer in my lewe weet ek hoe dit voel om vuil te wees.

Dit is glad nie lekker nie en my hart bloei vir daardie wat geen ander opsie het as om maar net te bly stink nie of ten duurste ‘wetwipes’ te gebruik nie. Dit is ongelooflik hartseer om te sien hoe die dorp van my kinderdae vergaan,” het sy geëindig.

Die munisipaliteit is gekontak vir kommentaar, maar nog geen terugvoer is ontvang teen druktyd nie.

 

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

  • Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
  • Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram

Back to top button