Local newsNews

Honde byt man se ore af tydens aanval in Reynorif

Die eienaar van die honde het gesê Snyman was in sy erf.

’n Man is deur twee honde in Reynorif aangeval.

Altwee Tommy Snyman (51) se ore is afgeskeur en hy het oral op sy lyf diep bytplekke opgedoen tydens die aanval op Saterdag 9 Desember.

Sy sussie me. Marie Hattingh het aan WITBANK NUUS vertel dat haar broer in erge pyn verkeer in Witbank Hospitaal, waar hy tans behandel word.

“Daar is stukke vleis uit hom gehap en sy kopvel agter is af geskeur,” het Hattingh gesê.

Sy het vertel dat haar broer twee huise van die huis af was waar die honde is.

“Die eienaar van die honde se hek was oop en die honde het my boetie aangeval omdat hy ’n sak met vleis by hom gehad het. Daar is mense wat sê die honde het die sak met vleis na die aanval in die erf ingedra,” het Hattingh gesê.

Sy het gesê die eienaar van die huis was nie tuis toe die aanval gebeur het nie.

“’n Vrou het probeer om die honde glo met haar kar van my boetie af te verjaag, maar hulle het net aanhou byt.”

Hattingh het gesê een van die bure het die eienaar gebel en hy het Snyman Witbank Hospitaal toe geneem.

“Tommy is doodbang vir honde. Hy was al vantevore gebyt en vandaar het hy ’n fobie oor honde en naalde,” het Hattingh gesê.

Die eienaar van die honde het gesê hy is bitter jammer vir die man.

Hy het gesê Snyman was glo in sy erf. Hy het gesê hy het foto’s van die klippe wat Snyman glo saam met hom gedra het, asook sy skoen wat hy aan die kant van sy erf gekry het.

“Die man se sak vleis en die brood wat hy saamgedra het, het nog in die pad gelê,” het die eienaar van die honde gesê.

Hy het genoem dat een van die honde oor die oog geslaan is.

“Ek het die bloeiende man hospitaal toe gevat omdat ons nie die staatsambulans in die hande kon kry nie.”

Het jy meer inligting oor dié artikel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

Back to top button