Local newsNews

Doktersfout kan eMalahleni-man sy lewe kos, 18 jaar later

“Dit het later uitgekom dat die dokter vuil instrumente gebruik het tydens my operasie.”

Johan Graham (38) moet nou tot terme kom met die amputasie van sy regterbeen omdat dit hom sy lewe kan kos, as hy dit nie laat doen nie.

Agtien jaar gelede het Johan vir ’n operasie gegaan op sy regtervoet nadat hy ’n sportbesering opgedoen het.

Komplikasies het egter veroorsaak dat hy vandag geen keuse het as om sy been te laat amputeer nie.

“Dit het later uitgekom dat die dokter vuil instrumente gebruik het tydens my operasie,” vertel Johan.

Hy was na ’n hospitaal in Pretoria geskuif en volgens Johan is Artrodese (enkelfusie-operasie) op hom gedoen .

“My hele been het so begin vastrek. My knieg en been het saamgetrek en ek moes weer geopereer word,” het hy verduidelik.

Johan het egter goed aangegaan oor die jare, maar sy regterbeen was nie meer dieselfde nie omdat sy knie deel geword het van een soliede been wat nie kon buig nie.

Volgens Johan het dinge drasties verander toe hy nog ’n besering opgedoen het op sy voet twee maande gelede. “Ek het per ongeluk skeef getrap op ’n trap en al die ligamente in my voet geskeur en my enkel gebreek. Ons is dokter toe en hy het al die inligting deurgegaan en ons was gesê dat daar niks is wat die ortopeed vir my kon doen nie. Hy kan nie sny aan die been nie en al opsie wat hy het, is om te amputeer. Ek kon nie daar en dan ’n antwoord gee aan die dokter nie en ek moes gaan dink het oor alles. Daar was nie baie tyd vir dink nie en sonder waarskuwing het gangreen begin sigbaar word op my voet.”

Johan vertel ook dat hulle sonder huiwering ortopeed toe is en dat die dokter hom die slegte nuus meegedeel het dat die been van die knie af, geamputeer moet word.

“Die dokter het my gebel en opgevolg op die noodoperasie wat gedoen moet word, maar ons fondse laat dit nie toe nie. Hy het gesê as ons R33 000 bymekaar kan kry, dan sal hy my so gou as vandag in die teater instoot, dat hy kan afsit,” vertel Johan.

Indien die been nie geamputeer word nie en fondse nie betyds bymekaar geskraap kan word vir die onkostes nie, sal die gangreen versprei tot in die been wat Johan se dood kan veroorsaak. Op die oomblik is Johan se tone yskoud en letterlik besig om dood te gaan en die vrees dat daar ’n klont gaan ontstaan, is groot. Daar is ook die risiko dat die dooie weefsel gaan afbreek en in die bloedstroom beland wat sepsis sal veroorsaak.

“Johan het nie medies nie; dit was vier jaar terug gekanselleer sonder sy wete. ’n Ou familie-vriend het ons besteel van ons geld en ons het die man vertrou met ons rekeninge. Die man is weg en ons kon ook nie sy ou medies kry om net op te tel waar hy gelos het nie en ek kan hom ook nie op my medies geplaas kry nie,” vertel Johan se ma, Heila.

Heila self is onlangs gediagnoseer met demensie en vroeë aanvang van Parkinsons.

“Sy het ook vir ’n rugoperasie gegaan laas jaar en ek moes werk staak om na haar om te sien. Ek het haar eerste gestel en toe die terugslag met my been gehad. My groot probleem is dat niemand hier gaan wees om na haar te kyk nie,” vertel Johan.

Die familie vertel dat Witbank Hospitaal nie ’n opsie is nie. “Twee van my vriende is oorlede as gevolg van nalatigheid in daardie hospitaal. Een vriend se maag het oopgebars en hulle het versuim om dit op te tel en het hom huis toe gestuur,” vertel Johan.

“Ons kan ten minste R5 000 betaal en nie meer nie. Ons het die kerk genader, maar hulle kon ook nie help nie, wat ek kan verstaan’’ sê Johan.

Hy vertel ook egter dat na die amputasie word daar gereken dat hy na agt weke terug kan gaan na ’n normale lewe.

Johan, wat ’n landloopatleet was en ’n sportiewe leefstyl gevolg het, vertel dat die realiteit hom nog nie ten volle getref het nie.

“Ek het nog nie tot terme gekom met die amputasie nie. Ek weet ek gaan met twee bene instap en met net een uitkom. Ek kan nie vir jou sê hoe ek gaan reageer nie. Op hierdie stadium maak ek nog baie grappe om met die idee vrede te maak,” sê hy.
Johan se ma vertel dat sy kophou met alles, omdat die Here haar enigste uitweg en redder is.

“Hy sal voorsien. In Sy woord sê Hy dat Hy sal sorg vir sy kinders.

Sonder die prostese gaan die operasie R80 000 kos. “Ons kort net daardie iemand wat ons sal kan help. Help my kind om sy lewe te red, sodat hy kan aangaan en sy lewe gesond kan uitleef,” het Johan se ma gesmeek.

Die familie het tans R10 000 vir die operasie, maar gaan hulp nodig hê om die res te dek, “As iemand vir ons ’n lening kan voorskiet. Al gaan dit hoe sleg met ons, ek sal bereid wees om maandeliks terug te betaal,’’ het Heila gepleit.

Daar is tans twee hoofrekeninge uitstaande wat betaal moet word, voordat Johan se been geamputeer kan word.

Enigiemand wat bereid is om te help, kan in die volgende rekeninge inbetaal:

Dr. R.U. Seleka Inc
Rekeningnommer: 62941291940
FNB
Takkode: 250955
en
Dr. M.G. Masemola Inc
Rekeningnommer: 10013270251
Investec Private Bank
Takkode: 580105
Verwysing: Johan Graham 8412 13524 2088

 

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

  • Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
  • Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitterof Instagram

 

 

Back to top button