News

Helpende Hand reik hand uit na maatskaplike werkers

Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werk dienste-afdeling gaan gedurende Maart, ter viering van Internasionale Maatskaplike Werkersdag, ’n bewusmakingsveldtog van stapel stuur om die publiek van nuuts af te herinner aan hiérdie eerbare en noodsaaklike beroep.

Internasionale Maatskaplike Werkersdag vind vandeesmaand plaas.

Die kollig val op 21 Maart op die professie van maatskaplike werkdienste.

 “Maatskaplike werkers speel ʼn onmisbare rol in die gemeenskap. Dit is belangrik om hierdie beroep te belig aangesien maatskaplike werkers as ʼn baken van hoop in gemeenskappe dien. Ons eer maatskaplike werkers, ons bedank maatskaplike werkers,” het me. Michelle Viljoen, voorsitter van die plaaslike Helpende Hand tak gesê.

Daar heers steeds baie wanpersepsies oor maatskaplike werkers. Sommige mense is van mening dat enige persoon ʼn maatskaplike werkers kan wees. Dit is egter nie so nie. Maatskaplike werk is ʼn professionele beroep.

Die opleiding behels die suksesvolle voltooiing van ʼn vier jaar B-graad aan ʼn tersiêre instansie.

By Solidariteit Helpende Hand fokus maatskaplike werkers op gemeenskapsontwikkeling deur netwerke te bou wat gemeenskappe kan mobiliseer om self maatskaplike kwessies aan te spreek.

Solidariteit Helpende Hand kan, en wil nie alles self doen nie, dus het hulle organisasies soos statutêre organisasies, kinderhuise, kerke en ander nie-winsgewende organisasies nodig om elkeen hul rol in die gemeenskap te vervul.

Solidariteit Helpende Hand fokus op kinders, gesinne, bejaardes en persone met gestremdhede, aangesien hulle die weerlose groepe in die gemeenskap is.

Dit is belangrik om te onthou dat hulle nie oor statutêre magte beskik nie. Statutêre magte is byvoorbeeld: die mag om deur die Kinderhof kinders te verwyder. Organisasies wat statutêre dienste lewer is onder andere die Christelike Maatskaplike Raad,  Kindersorgvereniging,  Rata en die Departement van Maatskaplike Dienste.

Maatskaplike werkers lewer ʼn verskeidenheid spesialis-dienste in die volgende diensvelde: Skole, hospitale, ouetehuise, rehabilitasie-sentrums, kinder- en jeugsorgsentrums, aannemings, gesinsadvokaat, korrektiewe dienste, geestesgesondheid, klinies, forensies, privaat praktyk en bedryfsmaatskaplike werkers.

“By Solidariteit Helpende Hand doen maatskaplike werkers gemeenskapsontwikkeling. Ons fasiliteer die proses om gemeenskappe te ontwikkel wat in hul eie ekonomiese, maatskaplike en sosiale behoeftes kan voorsien om sodoende gemeenskappe se lewenskwaliteit te verbeter. Ons het ʼn tak in eMalahleni wat bestaan uit ʼn groep vrywilligers wat gratis hul eie tyd gee vir ons doel,” het Michelle gesê.

Solidariteit se jaartema is “Hier’s my hand”

“Ons steek ons hande uit na die gemeenskap en doen ʼn beroep op die gemeenskap: Gee ook jou hand!”

Indien jy by die Helpende Hand familie wil betrokke raak of net meer van ons programme en projekte wil leer, kontak gerus vir Michelle: 083 285 8875 (takvoorsitter) of Annemarie van Heerden: 082 829 2546 (streeksorganiseerder Mpumalanga en KZN Noord) of Sumari Rootman (streeksmaatskaplike werker) by sumari@helpendehand.co.za of gaan gerus na www.helpendehand.co.za

Wil jy met ons gesels oor die berig?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of skakel ons by 013 656 2490. Vir brekende nuus, en gemeenskapsnuus besoek ons webtuiste by  www.witbanknews.co.zaVir lekker-lees nuus en artikels kliek op ‘like’ WITBANK NEWS op Facebook of volg ons op Twitter  or Instagram.

Het jy geweet? Kliek op die woorde in blou en lees meer oor dié onderwerp in die berig.

Back to top button